Op Toer
Dag 4: Lughawe toe: Besigheidsbesluite in ‘n bus
(Dag 3 het verlore geraak, goeie goed het gebeur maar te vinnig om tydjie te gehad het om neer te pen, jammer, bel maar vir die tyl. (As jy ons nommer vergeet het, onthou ons is nommer 1))
Sjoe, volgende oggende, almal ken daai, maar daai gevoel van iets amazings het gebeur en die begin is verby maar die Boeing is in die lug, en die baabelas wil jou herinner dat jy moet ly maar jy wil nie want te veel lekker gedagtes kom baklei vir plek in jou kop. Iets het gebeur die oggend 6h30. O ja, Mpho het gebel, die fokker, 06h30, for faak syks! Hy is verveeld by die huis wat gaan ons doen vandag. Ek vertel hom hy moet my ‘n uur gee vir ‘n insluimering. En word 4 ure later wakker, onthou toe eers van hom, gee ‘n bel, maak ‘n plan, gaan hom haal. Ons laai hom op.
Mpho, mmmh, hoe sal ek dit stel, hy is een van daai mense wat letterlik met almal op straat gaan praat. By die kafee stap ‘n ou Ma Veronica gebukkend met ‘n kierie oor die pad. Mpho gesels saamstapsaam met haar. Sy vertel sy was die victim van forced removals. Sophiatown, toe sy tien jaar oud was toe kom daai fokkers met hul kaspirs en laai die mense op. Wat ‘n Triomf. Maar sy is terug. Ons laai haar in, vat haar na die Anglikaanse kerk. Iets vertel my ons moet gou uitklim en gou by die kerk inloer. Wragtag daar stap ons die geskiedenis binne. Goeie roep, dankie Mpho dat jy gebel het al was dit so fokken vroeg. Ons ontmoet die Reverend en van die gemeentelede, ons kyk na die prentjies van die priester wat in Apartheidjare gewys het almal is nie so nie. Ons kyk na sy foto’s van die ou priester (ek het nou sy naam vergeet maar bel vir Mpho, hy sê dis Trevor Huddleston). Die pastoor vertel dat Trevor ook in daai jare die man was wat vir Hugh Masekela sy eerste trompet gegee het. Legend. Dat ons daar moes uitkom was bestem.
Mpho speel vir die pastoor en sy gemeentelede ‘n liedjie wat ek geskryf het:
I saw a man today
he was living in the street
had a wife and family
but none for them to eat
then a woman from the street
she came and shared her bread
she knew that she was someone’s child
when she looked into their eyes
and from a distant land
I knew a man who said to me
a man’s a man in my eyes
if a child is his in his
and to this day I still believe
that we all are family
everyone and everything
is a block from the same being
Mpho, ex-soldier en ekke kry trane in ons oë, liefde vloeie mense connect. Ons kry koekies van ‘n suster se eerste baksel. Lekker sy het goed gedaan. Ons groet geraak mekaar. ‘n Oomblik. Iets het gebeur. Magic.
Aangekom by Natasha se huis ontmoet Mpho die res van die gang, raak gewoond aan die slang. Onmiddellik vind Loit en Mpho mekaar en gesels heritage. Nog connections word gemaak. Les op en af soos ‘n beer, want hy wil lughawe toe want liefie land twaalfuur. Seker die eerste keer dat Les wou betyds wees vir enige iets op die hele trip. Wragtag, regtigwaar. (Jackie M se woorde sonder toestemming gesteel.) Mpho kry ‘n bak plan. Hy wil ons introduce aan Sifiso wat nou deel is van die regering se beplanning vir cultural development. Maar daar is probleme, daar is nie ‘n sekonde in hierdie vasgepakte dag om hom te ontmoet nie. Ons stop by die Xai-Xai waar Sifiso Ntuli besig is met ‘n besigheidsafspraak. Mpho hijack hom, ek sien hoe word ‘n vol guiness agtergelaat op die tafel. Later sou ek eers hoor dat Sifiso glad geen benul gehad het oor wat Mpho se duistere planne behels het nie.
Ons laai hom agter in die vlamwa. Loit en Les speel musiek vir hom. Hy begin vriendelik genoeg reageer totdat ons die hoofweg vat. Toe raak die man bekommerd. “Hey, listen guys, this hijacking, fun as it may be, is causing trouble with my agenda for the day, I have business and kids to take care of. Where are we going?”
Mpho sê vir hom terwyl ons ry in die middelste van 4 bane op die M2: “It’s ok, bra, we can just drop you off here, you can grab a taxi back to Melville.” Daarna was Sifiso se gelukkige gemoed by die venster uit. Die hele atmosfeer raak gespanne. Les is bekommerd oor Meisie wat wag op die lughawe. Sifiso is bekommerd oor guiness wat wag op die tafel. Riku wonder wat de hel om nou te doen: “I’ll just drive faster.” Jackie M het alles op video. Dis fokken funny nou, maar nie toe nie.
Iewers in die oomblik het Sifiso begin relax toe hy sien daar’s nie veel wat hy kan doen aan sy situasie nie. Les het die kitaar geneem, mooi gespeel. Radio Lava Live bly maar die bus se beste stasie. Sifiso sê later, “yes I can see that you can play music well, but what do you want from me.” Dis waar die samesprekings begin het. Sonder om al die details te verskaf maak dit my bly om te rapporteer dat die Wasgoedlyn saam met klomp ander inheemse kunstenaars deur die departement kuns en kultuur paar vertonings gaan hou. Hijacking suksesvol. Wat kan mens sê. Die Nuwe Suid-Afrikaanse Kultuur het meriete.
Op die lughawe by die drop and go kry ons meisie Melissa waar sy gesellig verkeer met die verkeersbeamptes. Sy klim by die kar in en die verkeerspolisie wil haar nie laat gaan nie. “When are you coming back? We want to see you.” Sjoe wonder wat de hel het sy gesê (of gedoen) vir hulle, want dit klink asof daar in ‘n kort tydjie liefde geblom het…. Lossit maar daar. Les raak stil en doodtevrede en spin soos ‘n katjie wat room gekry het, ‘n mak lammetjie met meisie aan sy sy agter in die vlamwa.
Net voor ons Melville binnery spring Mpho uit die bewegende vlamwa uit asof hy met die dood gedreig is en klim by die agterdeur in van ‘n pikswart 7 reeks BMW asof die maar is wat mense doen in Jhb. Dit was so surrealistiese moment. Voor ek nog kon wonder wat gebeur het ry ons verder, laai Sifiso af en bande is gesmee. Sjoe, dis nou al die derde sjoe (en daai was die vierde), maar die spoed waarteen alles afspeel is verbysterend. Vanmiddag het ons nog ‘n klein bymekaarkoms by Natasha se huis, want Grieta by the Room, het laat weet dat mense gisteraand se show so geniet het dat sy goeie geld sal betaal om ons vanaand weer terug te hê. Dis dan die plan. Sien hier gat ons weer!
(As jy nog nie ten minste Wasgoedlyn Vol 1 se liedjies het nie, los ‘n boodskap met e-pos adres, of gaan na http://tunelink.co.za, en ons stuur so gou soos nou die liedjies direk na u toe, waar dit hoort te wees.)
Op Toer
Dag 2 Deel 2: Die Wasgoedlyn se eerste optrede, JHB “the Room” 44 Stanley
Interessante toets het op ons gewag. Die feite is: Ons is ‘n versameling musikante, maar meer as dit, skeppende kunstenaars, wat nou saam op ‘n kleinerige verhogie vir die eerste keer ooit ‘n program gaan speel asof ons dit al jarre doen. Party van die musikante ontmoet mekaar vir die eerste keer daar minute voor die vertoning begin. Ek dink nie Rian Malan het ooit van Loit Sôls gehoor voor die Wasgoedlyn se Mieliepoptoer nie. Rian en Les het wel van mekaar geweet, want ek het baie van beide met die ander gepraat, maar vanaand is die eerste keer op aarde (let op geskiedskrywers) dat Rian Malan en Les Javan saam op ‘n verhoog sou verskyn.
Soundcheck sien ‘n chaotiese kombinasie verhoogskarrelendes wat vra: “waar’s die tuner? Watse mic is myne? Waar sit ek? Gaan jy op die kitaar speel? Vat jy die shakers? Wie op dromme? Waar is die fokken tuner? Wanne begin ons? Is julle reg, die mense kyk al na ons? Waarmee gaan ons soundcheck? Wat is die eerste song? Het iemand nog ‘n kitaarkabel? Hoekom werk my mic nie?” Al hierdie dinge gebeur terwyl Lochner rustig sy koffie teug en ‘n sigaretjie rook en Les J op sy eie in die Spar rondmission vir airtime (vir Melissa smsies) en iets by die Tops. Min gepla. Maar soos ek sê, eks op my eie min gepla oor Les, want soos ek voorheen gesê het, as Les opdaag, gaan mooi gebeur. Bacchus Nel daag op met sy hele band. Hoe de fok gaan almal op die verhoog pas….
Dan raak alles stil en almal sit en ons asem in en uit en wag vir die eerste noot. Ek is op die klavier val weg met Hoofstroom in D. D is ‘n goeie sleutel. Les het ‘n mondfluitjie in D. Dit klink mooi en skraal in die dikste musiekstrome sny dit van agter in die kamer reg deur tot voor in die gevoel. Daai triestige klankie wat mense hartseer en bly op dieselfde oomblik maak. Ek is in die ritme, ek hoor Les van anderkant die verhoog inval, dan is Pete by met ballas en Rian op ruggraatkitaar en die perkussie met Ruben en Loit begin inskop en die Wasgoedlyn is in die aanloopbaan na al die reise en regmaak soos ‘n groot Boeing met enjins wat opwarm, wegtrek en as die koor kom, opstyg: “Hoofstroom, verbode rivier, word meer as ‘n mens, ‘n heilige dier.”
Ons het vertrek. Ons is hier. Ons speel musiek. Ons verdwaal in toonlere en ritmes. Ek sien uit die hoek van my ook Grieta begin glimlag. Soos Rian sing: “Die glase klink, die dansers draai, hy hou jou vas, probeer koning kraai.” Oe die gotskap gevoel as jy met ‘n groot orkes ‘n lekker liedjie speel en almal gooi ‘n stem in die potjie. Die geheel is groter as die somtotaal van almal se bydraes. Dis waar die magic lê. Fok Mnet. Ek hoef nooit weer TV te kyk as hierdie lewensaar my siel so voed nie. Ek is verslaaf aan klanke maak. Die regte klanke met die regte mense op die regte manier. Ek sal help span aan hierdie ding; die Wasgoedlyn, laat ons sien hoe ver sy gaan. Maar om oor musiek te praat is om seks met behulp van masturbasie te probeer beskryf. Ek los dit liewer daar waar dit hoort. Mens u moet liewerste self kom luister. Die Wasgoedlyn kom. Kom pluk sy vrugte daar is baie om te geniet.
(As jy nog nie ten minste Wasgoedlyn Vol 1 se liedjies het nie, los ‘n boodskap met e-pos adres, of gaan na http://tunelink.co.za, en ons stuur so gou soos nou die liedjies direk na u toe, waar dit hoort te wees.)
Op Toer
Dag 2 Deel 1: Preparing for the big JHB show
Word wakker in Natasha en Len se huis. Gister voel soos ‘n blur. Lekker koppie koffie. My boetie in Australië verjaar vandag. Lochner bel, ons kom almal hier bymekaar. Natasha en Jackie M gesels oor Kingston and the Rasta. N wil sommer dadelik die band inskryf vir FORR. Maggies, dinge gaan vinnig, laat ons eers ‘n stukkie asemhaal met die goeie nuus dat teken 2 van gister se kommer iets van die verlede is met ‘n pragtagge sms van standardbank wat my vertel het dat my bank ont(mielie|)pop het in ‘n gesellige situasie.
Natasha se Len het tande laat trek om absesse en moontlike dood te vermy en die sit letterlik dikbek in die tv kamer toe ons gesig wys. Moedige man wat met groot pyn groot getalle rumoerige gaste in sy huis met vriendelikheid verdra. Op pad venue toe vertel Natasha dat sy baie ouens gedate het wat nice was, maar nie regtig hul lewens oopgemaak het vir haar manier van sosiaal verkeer nie. Len het op ‘n stadium haar laat verstaan dat hy weet daar sal nou maar net altyd mense en mense in sy huis wees, en dis fine met hom. Dis aanvaarding wat huwelike laat werk. Maar miskien is dit meer. Ons kom in die kamer opgemaak in haar huis vir ons om in te slaap en die enigste boekie uitgestal op die bedkassie: “WEES DIE VROU VAN ‘N GELUKKIGE MAN”. Die hoofletters is soos dit op die boek self verskyn en dit laat my voel asof die titel ‘n bevel is en nie ‘n voorstel nie. “Ja amen”, dog ek maar ek was nog nie gereed om volkome vrou te wees nie, toe paas ek die boekie aan na Jackie M toe. Tot my groot onsteltenis stel sy glad nie belang nie. Geskok. Seergemaak. Verstaan sy dan nie dat wanneer die man die spil is waarom alles draai dat die wiel van die vrou se lewe glad sal verloop nie? Dit staan alles daar op bladsy 31.
Hoe dit ook al sy, ons gaan nie toelaat dat huweliksprobleme ons Mieliepotoer in die wiele ry nie. By die venue, “the Room” by 44 Stanley, kry ons vir Lochner. Hy het ‘n pragtagge Wasgoedlyn manifes geskryf en geperform daar en dan. Grieta, in beheer van alles, kon nie ophou glimlag nie. Ons gesels oor tafels skuif, mensegetalle, stages bou en wasgoedlyn ophang. Die wasgoedlyn wat op die ou en gehang het, het sexy gehang met lingerie en lingerda. Eers later vind ek uit al die kinky goete was van Grieta afkomstig. Mmmmh, Grieta lyk na so ‘n lekker meisie.
Anyways, Rian bel: “Lyk my nie julle is daar nie.” O fok, ek het vir Rian na Natasha se huis toe geredirect vir ‘n rehearsal, meantime is ons venue toe. My beplanning darem…. Op die ou en dag die manne stuk-stuk by Natasha se huis op, eers Lochner saamet ons, dan Rian. Ons werk Lochner se liedjies uit, gaan goed, klink mooi. Ek dog by myself: “Legendary” hier sit ek tussen Rian Malan en Lochner de Kock. WTF, groot siele in die kamer. Toe daag die anne manne op. In stap die Loit en die Ruben en die Les Javan. Ons begin lekker lawaai, so mooi, groot dinge op pad. Minute later verdwyn Les internet toe. Boek en verskuif vlugte vir sy duifie van PE. Les sou eers weer verskyn toe ons die huis verlaat om te gaan soundcheck. Moeilik om rehearsal so te run, maar ek het vroeër vir Jackie M vertel dat met Les op die verhoog is ek gerus met die waarborg dat daar minstens een hoek is vanwaar goeie klanke altyd gaan voortspruit. And so it was proven to be the case yet again. Maar meer daaroor later. Ek stop vir ‘n breakfast breek. Chat nou-nou verder.
Recent Comments