Januarie 2026
Ons definisies perk ons in
So belangrik soos identiteit is, net so onbelangrik is dit. Die “Nie in my naam”-beweging van ’n groep Progressiewe Afrikaners (PA) het juis tot stand gekom omdat die Konserwatiewe Afrikaner (KA) totale eienaarskap van die term “Afrikaner” wou toe-eien deur die valse narratief te dryf dat spesifiek Afrikaners om rasredes uitgemoor word.
Was dit nie om die definisie van die woord “Afrikaner” nie, sou die “Nie in my naam”-beweging nooit bestaan het nie. Dit klink so voor die hand liggend dat dit amper onnodig is om te sê. Maar klein waarhede het groot gevolge.
Vir ’n liggaam om ’n groen trui te dra, soos die Springbokke, is belangrik. Op die einde van die dag, om Naas aan te haal, het net een span met een identiteit die Wêreldbeker gewen. Geen opinie, binne of buite daardie span, kan die feite van die dag verander nie. Die Springbokke is die onbetwisde wêreldkampioene. Soos een man sou hulle vir Rassie inval om vir die ganse SA die beker te wen. Maklik, elegant is identiteit as almal een is.
Dat plaasmoord as uitverkore moord bestempel moet word, het iewers onder die Konserwatiewe Afrikaner (KA) ontstaan, en daar is bewyse dat dié gedagte deur AfriForum aangeblaas en gepropageer is. Weereens is dit nodig om ’n voor die hand liggende feit uit te wys: dat plaasmoord, grusaam en betreurenswaardig soos dit is, nie ’n aanduiding is dat daar in Suid-Afrika ’n beleid of veldtog bestaan om spesifiek Afrikaners uit te moor vir hul wit vel nie.
Daar is moontlik van die moorde wat geïdentifiseer kan word as gemotiveer deur velkleur. Suid-Afrika het steeds nie sy rasseprobleme opgelos nie, so natuurlik gebeur sulke moorde. Maar net so is daar vandag nog voorvalle van wit mense wat swart mense om presies dieselfde redes vermoor, en niemand sal daardie enkele voorbeelde gebruik om te argumenteer dat daar ’n volksmoord deur wittes teen swartes gepleeg word nie. Selfs die getalle is nie in die volksmoord-argument se guns nie. Op Soweto-dag is meer swart mense vermoor as in tien jaar se plaasmoorde.
Die hartseer vir die KA is dat die PA, klein soos hul groepie ook al is, die KA die reg ontneem om die term “Afrikaner” te gebruik om hul wit-volksmoord-narratief te dryf. En dis juis omdat die PA so ’n klein groep is dat dit die KA so ontstel. Hoe kan so ’n noemenswaardig klein groep die mag besit om die oorgrote meerderheid se opinie (of emosie) se legitimiteit so te verwoes?
Wat het geword van “Soos een man sal ons vir jou val”? Die PA verraai mos nou die Afrikaner, volgens die KA. Dis asof al die Sprinbokke vir SA uitdraf, behalwe Willie le Roux se wit broek speel vir die Engelse span. En, gemeet aan die kommentare op die blaaie, is dit die grootste misdaad sedert Piet Retief vermoor is.
In die oë van die KA is die PA die kankergewas binne die Afrikaner—die gedeelte van die liggaam wat die geheel ondermyn. Daarom die vyandigheid jeens hierdie klein minderheid. Daarteenoor is die KA vir die PA die kanker in die groter prentjie van ’n demokratiese SA.
Ons is dus nou in ’n Afrikaner-konfrontasie, en niemand durf waag om sy oë van die ander te haal nie. Intussen het die krieketseisoen al vir die res van die wêreld begin, om nog ’n bietjie krag uit die kolonialistiese sportmetafoor te wurg.
Die deurbraak na helderheid kom wanneer ons na die definiëring van die woord “landsverraaier” kyk. Tydens die 1992-referendum is die PA’s gesien as die landsverraaiers wat die land aan swart mense sou oorhandig. En Kerkorrel het gesing in BMW: “Moet ons alles dan verniet weggee?”
Vandag sit die Afrikaner steeds met ’n disproporsioneel groot hoeveelheid land en welvaart in SA. Die PA’s is nou herdefinieer as “volksverraaiers”, terwyl die KA’s, as’t ware, beter pas onder die definisie “landsverraaier”, aangesien daar onder daardie geledere duidelik meer lojaliteit bestaan vir Orania, Amerika (en selfs Israel) as vir Suid-Afrika.
Dit is dus ironies dat die KA’s nog so aandring om Die Stem by hul saamtrekke te sing, want hulle deel duidelik nie meer die sentiment van die woorde “ons vir jou, Suid-Afrika” nie. Ons kan om die feite wals, of ons kan erken dat dit die dawerende terughunkering na apartheid is—die verlange na ’n ondemokratiese SA waar die wit man heers met die wil en stempel van God, soos deur hulself uiteengesit. Dit verklaar ook die lojaliteit teenoor Israel (die wêreld se mees suksesvolle apartheidstaat), selfs terwyl Israel ’n volksmoord pleeg wat hulle, ironies genoeg, ontken.
Die KA’s en die PA’s staan weerskante van ’n groot kloof en skree in die ooptes na mekaar. Dis juis hier waar die kranse antwoord gee. Elke groep aan elke kant hoor net die boodskap in die eggo wat hy kies om uit die lawaai te hoor.
Dis hier waar ons definisies ons toetentaal in die steek laat. Nie die KA of die PA is ’n homogene groep nie. Daar is radikales en gematigdes aan alle kante. Ook kan mense wat liberaal is op sekere gebiede, as erg konserwatief op ander bestempel word. Byvoorbeeld: ’n liberaal wat erken dat apartheid ongelooflike skade aan swart mense se kanse op welvaart aangerig het, maar wat terselfdertyd konserwatief staan om te keer dat welvaart vandag herverdeel word. “Dit sal die mark in duie laat stort as ons vandag besluit dat eiendom niks meer beteken nie,” redeneer my denkbeeldige liberale karakter. Nie alle liberales is kommuniste nie. En nie alle liberales het swart vriende nie. Daarteenoor is daar talle KA’s met heelwat meer betekenisvolle kontak met swart mense op voetsoolvlak as sommige PA’s in tuis-ingerigte ivoortorings.
Daarom is dit nodig dat ons weer na ons definisies kyk en bepaal tot watter mate dit ons dien, en tot watter mate dit ons verdeel. En is die bediening die verdeling werd?
Ons verloor mekaar se medemenslikheid as ons eers ’n definisie is voordat ons mense is. Baie van hierdie definisies word so ferm en onwillig op mense afgedwing dat die definiëringsproses mense verder van mekaar vervreem as wat hulle werklik is.
Kyk byvoorbeeld hoe goed die anonimiteit van toevallige ontmoetings in die publiek werk. Hoe minder ons van ’n persoon se politieke identiteit weet, hoe groter is die kans op vriendelikheid. Ongeag die groot ideologiese kloof tussen mense, bly daar ’n kans vir medemenslikheid, en kan kontak selfs brue bou vir ’n avontuurlustige groep wat wil sien hoe die wêreld buite sy eie lager lyk.
Natuurlik sal daar mense wees wat standvastig aandring op die behoud van hul standpunt über alles. Jy gaan nooit almal kan oortuig om gemeenskaplike grond te betree nie, maar net so gaan jy min bereik as jy nie beleefd met mense buite jou bende kommunikeer nie.
Tans gaan die wêreld gebukkend onder swak leierskap. Goeie mense in Suid-Afrika sukkel onder die swak ANC-regering. Net so is daar goeie mense in Israel en Amerika wat, ondanks swak leierskap, steeds ’n bestaan moet voer en ’n lewe wil lei waarop hulle trots kan wees. Net so is daar ook mense binne die geledere van AfriForum en Solidariteit wat die goeie gemeenskapswerk en geleenthede waardeer, maar nie met die raspolitiek van Afrisol saamstem nie. Die huidige Afrisol-leierskap dwing egter mense om die raspil te sluk in ruil vir die ekonomiese en maatskaplike bemagtiging wat Afrisol bied.
Nie elke lid van AfriForum en Solidariteit is verantwoordelik vir hul organisasies se politieke standpunte nie—net soos nie alle Suid-Afrikaners met die regering saamstem nie, en net soos nie alle Springbokke noodwendig met alles saamstem wat Rassie doen nie. Daarom is dit nodig om te erken dat ’n term wat jou definieer, maar net ’n baadjie is wat jy kan aan- en uittrek. Die ware identiteit van wie ’n individu is, is veel meer as die klere wat hy of sy dra. As ons dit onthou, kan ons mekaar in die oë kyk, ongeag die verskillende baadjies wat ons dra.
My hoop vir SA is dat ons as land, ten spyte van ons verskille, almal vir dieselfde span sal skree—en ja, die afrigter, hetsy die ANC, Erasmus of wie ook al, met die nodige respek sal uittrap waar dit moet—maar nie die land sal verraai wanneer ons verskil nie, deur by die All Blacks of Amerika aan te sluit.Ons pad na ’n beter toekoms loop deur demokrasie. Ons moet, as land, die ANC uitstem, en dit is besig om te gebeur. Net so sou dit gesond wees as elke party en/of organisasie ontslae kan raak van leierskap wat nie die meerderheid van sy mense se waardes deel nie. Dit is moontlik om van swak leiers in elke gemeenskap ontslae te raak. Maar daarvoor is kommunikasie nodig—die soort kommunikasie wat nie die rug verstyf en die toks dieper trap om harder terug te druk nie, maar kommunikasie wat toorn verlaag en die hand uitreik.
Januarie 2026, Uncategorized
Die Nuus
In ’n verrassende wending het president Cyril Ramaphosa die vredeshand uitgereik na Donald Trump, president van die VSA. Dit nadat Trump gewys het dat hy nie meer speletjies speel nie. Hy het Venezuela met militêre presisie en dissipline binnegeval. Slegs 80 mense is verwoes, dood, of erger, agtergelaat om president Maduro na Amerika te ontvoer.
In ’n persverklaring, op wit papier, het Ramaphosa se kantoor erken dat hulle ’n internasionale insident wil vermy. Hulle het ook gesê dat dit onnodig is om die kleur van die papier te vermeld. “Not everything is about colour.” Ander partye het aangedring om te verskil.
Onbetroubare bronne vertel dat Ramaphosa die Maduro-ontvoering op TikTok regstreeks aanskou het en aan ’n meneer Niemand Inpartikulêr in ’n sagte dog sombere toon gesê het: “We’d better not p!ss this guy off any more than we have already done!”
Na bewering het Ramaphosa die hoof van die Suid-Afrikaanse vloot, vise-admiraal Monde Lobese, ontbied om uit te vind hoe beskikbaar daardie oorblywende boot van die Suid-Afrikaanse Vloot is om ’n “baie spesiale rusbank” aan president Trump te stuur. Die admiraal het dadelik ’n komitee in die lewe geroep om ’n komitee aan te stel om ondersoek in te stel na die seewaardigheid van die genoemde boot.
Toe Ramaphosa dit hoor, was hy dadelik op soek na sy iPad om te google of daar nie vinniger maniere is om ’n vredesrusbank na Amerika te stuur nie.
Ramaphosa het gesê hy sal selfs versoeke van Jaco Kleynhans, een of ander iets van Orania, aanhoor as dit Trump gelukkig genoeg sal maak om hom nie te wil ontvoer nie. Kleynhans het dadelik gevra vir die onafhanklikheid van Orania, waarop Ramaphosa geantwoord het dat hy dit sal oorweeg, solank hulle afstand doen van hul begeerte om Orania te herdoop na Afrisrael, in solidariteit met Israel. Ramaphosa het gesê dat dit net eenvoudig een stap te ver sal wees gemeet aan hoe Israel sy buurlande behandel.
Na bewering het Trump in sy stoel aan die slaap geraak nadat hy verneem het oor hoe min olie Suid-Afrika beskik.
Dae later, na die ondersoeke oor die ondersoeke afgehandel is, het Ramaphosa verneem dat dit dalk maande gaan neem om die vredesrusbank in Amerika af te lewer, gegewe dat ons oliereserwes ook tans redelik laag is. Ramaphosa het gesê dat hy in daai geval maar hoop dat hulle hom na ’n lekker deel van Amerika sal ontvoer en nie na ’n kultuurwoestyn soos Texas of Alabama nie.
Intussen het Ramaphosa sy iPad gekry en ’n vonkpos aan president Trump gestuur, wat deur Elon Musk onderskep en op X gepubliseer is:
Dear you highest excellency (and greatest) President Trump
This is me, your other black friend (and also president) Ramaphosa, president of South Africa, remember me? I hope I can call you my friend since Diddy, your only other black friend, is now in jail. (Okay, apart from Ye.) I am surprised that you have not yet pardoned Diddy yet. What’s up with that? Is it because he is black? I hope he survives jail seeing that Epstein, your best white friend, could not even manage that.
But let us not beat around the bushes; I want to be your friend and I think that you also want to be my friend because no one can call you racist if you have two black friends, can they?
I want to send you a present, but in order to do so, I ask if you can please send me some of Venezuela’s oil so that we can fuel our boat to deliver your present directly to Mar-a-Lago, if that is good for you. It would be good for us, since it is a lot closer to us than Washinton, DC.
Also if you send us enough oil we can send you more Afrikaners and this time we can bypass the Kenian passport stampers that we “accidentally” deported. I hope you are not still angry about that! Let bygones be gone by! That is what I say. What do you say?
Anyway, we have also renamed the Sun City golf course the Donald Djy Trump, of course, as a pre-emptive prize for your peace.
So help me God!
Amen
Yours fearfully
President (but not as “be best” as you, haha you see what I did there? Give my regards to Melania)
Cyril Ramaphosa.
Woordvoerders van beide Musk en Ramaphosa wou nie woorde voer om te ontken of die brief werklik die woorde van Ramaphosa is nie.
Op Fox News het Brian Killmedead stotterent gesê hy reken nie “Trump sal werklik vir Ramaphosa ontvoer nie, hy is darem maar net te swart … gesmeer … ek bedoel … hoeveel fentaniel kom werklik van Suid-Afrika by Amerika uit?”
’n Geheime agent, Justin Case van 45 Something Blvd, Denver, Colorado, het na bewering ongesiens, onverwags uitgeroep: “Mense dink nog die Maduro-ontvoering gaan oor drugs? Niks sal my meer verbaas nie! Ons gaan seker Groenland ook binneval en annekseer oor drugs!”
Niemand Inpartikulêr was teenwoordig om te ontken dat hy vingeraanhalings gebruik het.
Die internasionale gemeenskappe is bekommerd dat Trump se aksies die natuurlike wêreldorde kan omverwerp. Geheime antieke geskrifte is in skrywer Dennis de Bruyn se besit gevind wat beweer: “Wêreldorde is slegs moontlik mits die eenhorings nie Noag se ark verpas nie.” Wie weet of daardie voorspelling enigsins steek gehou het? Nietemin, wêreldorde ontwyk ons steeds.
Lande soos Meksiko het verlange uitgespreek na stabiele oorlogspresidente soos Bush en Bush, wat verkies het om oorlog te maak in die Ooste. Die verre, verre Ooste.
’n Vriend van ’n ou kennis van iemand wat president Claudia Sheinbaum, president van Meksiko, nie meer kan onthou nie, het gesê:
I really don’t like this latest trend that the USA is now referring to the “Western hemisphere”. This is really too close to home. It was better when they were talking about the States as “America” … It is like the guy in the corner of a Stephen King novel: You do not want the crazy guy next door to become aware of your existence!
So gepraat van die stil ou in die hoek van die kamer wat vir die eerste keer praat in die movie, wat nie eers sy oë wys onder sy stetson om advies te lewer nie. Sy kommentaar is:
This is the dumbest war America has ever started, and this just to win the Nobel Peace Prize. My advice is for everybody just to stay home, and keep low, America is blowing herself up. Just stay alive until it’s over. Keep yourself occupied with the gentle art of doing nothing.
Ironies genoeg is hy opgemerk toe hy hierdie wyse woorde kwytgeraak het en is deur ICE gedeporteer na Venezuela, wat voortaan sal bekend staan as “Ook-Amerika”.
Na nagte van angs waarin Ramaphosa nie na Amerika ontvoer is nie, het Cyril ’n vonkpos terug van Trump ontvang waarin hy sê:
Dear Cyril, given that the rand and all the Brics currencies have been rising constantly against the dollar, I was just dropping in to ask South Africa, and all the countries we are currently destabilizing, to help the US pay for that service, and to do so fast, because Mexico is very far behind in their wall payments. The matter is pressing! Thank you for your attention to this matter. You favourite President, Me.
Cyril het net laat weet die tjek is in die rusbank op die boot, Suid-Afrika wag net op die olie … Ons verwag dit gaan ’n lang, vreedsame oorlog wees vir Suid-Afrika.
Sun Tzu het blykbaar gesê: “The supreme art of war is to subdue the enemy without fighting.” Waarop Trump geantwoord het: “The supreme war of art is to subdue the fighting without an enemy.” Hy’s miskien nie verkeerd nie, maar die ANC het ’n komitee op die been gebring om te ondersoek wat dit beteken. Hulle sê hulle sal ná die volgende verkiesing heel moontlik nie na ons toe terugkom nie.
Niemand Inpartikulêr het gesê: “Jou goeie naam is iets wat jy verloor sodra jy dit gebruik.” Ondersoeke word ook geloods om uit te vind wat dít beteken.
Daarmee dan die nuus vir nou. Skakel in vir die nuus om agt.
Ek is Jan van der Volkswagen.
Tot iets anders gebeur, tot siens vir eers.
Op Toer
Die Wasgoedlyn loer in by Misty Waters Musiekfees

Dis oppad Mei toe en Misty Waters Musiekfees het die Wasgoedlyn genooi om bietjie te gaan inloer om te kyk wat alles daar gaan gebeur en om bietjie van daai gees en musiek aan die lyn te kom hang. En ons is opgewonde, want wanneer laas was ek by ‘n fees net om te gaan kyk en luister, te hoor en sien? Jarre laas, ek dink dit was nog Houtstok in die 90s. En dit was great, want ek het my hero’s daar gesien, Anton Goosen saam met die Kommissie van Ondersoek, Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis, Live Jimi Presley, Joos Tonteldoos en die Dwarstrekkers (Paul Riekert se alt-Afrikaanse-rock band wat later Battery 9 op die been gebring het) Nico Carstens het gespeel en ek het gedink dis kwaai dat hy saam met al die rockers daar opgetree het. Die show wat uitgestaan het was KOOS. Nie Koos Kombuis nie, (met apologie aan André Letoit want hy is en sal altyd een van my gunsteling singer-songwriters bly), nee die band se naam is eenvoudig net KOOS. Ek het my vergaap aan die band, ek was nog op skool, om presies te wees, standerd 9 (dis graad elf vir die jonger genes onder ons). Ek het nog nooit van tevore sulke anargistiese punk musiek gesien nie, en dit boonop alles in Afrikaans. Ek sou meer as twee dekades later met hoofman van KOOS, Marcel van Heerden werk en steeds soos daai hopelose kind sy eie lirieke aan hom terugsing en hom vertel hoe hy my lewe verander het.
Intussen het ek talle feeste bygewoon, maar om self te gaan musiek speel en dan verander alles. Ek meen jy moet konsentreer op jou eie optrede en eers daarna as jou show afgehandel is, kan mens bietjie ontspan, en dan ontspan mens gewoonlik te veel te vinnig, want jy voel veral verlig omdat die stres rondom jou optrede verby is en die euforie daarvan is gewoonlik hoog en jy moet een of ander tyd terugkom, af, af, af al die pad aarde toe. Dis wat kunsmaak aan mens doen, hou vas, dis ‘n wille rit. En daarna, wel, daarna konsentreer ek nie meer nie, ek is gewoonlik so vasgevang in die sweer daarvan dat ek jou gewoonlik net kan vertel dat dit moerse lekker was, maar nooit in detail kan rekenskap gee van wat gebeur het nie.
Die grootste en kleinste feeste wat ek al ooit by opgetree het was altwee in die buiteland. Die Dranouter World Music Festival was by verre die grootste. Daar het ek opgetree vir die grootste gehoor nog ooit in my lewe. Maar die hoogtepunt van daardie fees was die aand toe Sinead O’Connor gesing het, toe het ek gehoor hoe dit klink as 80 000 mense saam sing: “Nothing compares to you”. Ja dit het ‘n merk op my siel gekerf. Daarteenoor is STRAB in Mosambiek die kleinste. Ek is nie honderd persent seker nie, maar ek dink daar word slegs 900 kaartjies verkoop. So dis ‘n klein fees en na die naweek ken almal omtrent mekaar. En dis by die see, en Conrad Jamneck maak seker dat net die beste musikante daar optree, so die musiek is uit die boonste rakke. Op die oomblik is STRAB my gunsteling fees.
Maar wat is die toestand van musiekfeeste in Suid-Afrika deesdae? En musiek bedoel ek bands en musikante, nie DJs en Karaoke nie. Is daar nog ‘n scene? Hoe gaan dit met Oppikoppi? Ek was so lanklaas daar. Dit was altyd ‘n hoogtepunt op die kalender. Die bands in die bosveld. Dis ‘n ervaring wat selfs in die buiteland berug is. Ek het getoer in Nederland en na optredes het mense my kom vra hoe is dit by Oppikoppi. Ek kon nie antwoord behalwe deur te sê jy moert self gaan nie, want vertel jy van die stof, die skroeiende son, die dorings onder jou tent, sal jy beswaarlik mense kan oortuig om te gaan. Maar hoe verduidelik jy aan ‘n vreemdeling dit gaan oor die gees en hoe gebruik mens slegs woorde om die magic van musiek oor te dra? Anyway, woorde daarvoor is onvoldoende, kyk liewer bietjie wat het ons laas daar aangevang op ons Wasgoedlyn Mobile Stage:
Hier in die Kaap gaan dit maar sleg met die feeste. Die beste fees, die Oesfees in Franschhoek, is dood. Daar kon jy verwag om altyd kwaliteit musiek van alle gemeenskappe te sien. Ek dink dis ook byvoorbeeld die enigste fees gewees waar groot sterre soos David Kramer en Stef Bos opgetree het met gewone mense, sangers en onbekende musiekmakers van die plase van die omgewing. By geen ander fees het ek dit ooit weer gesien hier rond nie. Die KKNK doen uitstekende werk as dit by dramaproduksies kom, maar wat musiek betref staan KKNK vir Kom Kyk Na Kak. Dis Karaoke, Kommersiële Afrikaanse Kultuur en Karen Zoid. Karen is koel, maar sal jy net vir haar al die pad Oudtshoorn to piekel? Maar moenie my woord daarvoor vat nie, ek was in die laaste paar jaar nie weer terug om te gaan kyk het of dinge verander het nie. Once or twice bitten, shy for many years, of hoe lui die gesegde? Ek sien darem Frazer Barry (van Tribal Echo) het verlede jaar ‘n Kanna gewen daar vir hul produksie “’n Lepeltjie vol snare” met oom Hannes van David Kramer se Karoo Kitaar Blues. Ek, wat al baie met Frazer gewerk het, kan persoonlik getuig dat hy een van die beste liedjieskrywers in Afrikaans is. En ek hoor Churchil Naude tree ook op by hierdie jaar se KKNK, so dit lyk darem of dinge in ‘n regte rigting beweeg. As jy daar kom en jy hoor van lekker musiek, laat my weet, ek wil graag hê dinge moet beter wees as wat dit was.
Ek hoor Up The Creek is lekker. Ek was nog nooit daar nie. Dit lyk moerse koel met al die bootjies wat dryf op die water. Ja nee, ek sal moet gaan sometime. Ek het nog altyd die Woordfees in Stellenbosch geniet, maar dis glad nie vir my ‘n fees in die festival sin van die woord nie. Eerstens is daar nie een terrein soos by Misty Waters of Oppikoppi nie. Nee, dis meer soos ‘n Woordweek in Stellenbosch, waar jy uitstekende produksies kan gaan beleef in die pragtige en gesofistikeerde lokale in Stellenbosch. No roughing it, maar ook nie die samehorigheid en solidariteit wat kom van die gemeenskaplike meemaak van ‘n rockfees soos Misty Waters nie. En dit liewe vriende, is hoekom ons so opgewonde is om te gaan kyk waat gaan aan by Lake Umuzi in Mpumalanga waar Misty Waters Music Festival gaan rock van 10 tot 12 Mei 2019. Die bestuur het ons laat weet dat almal welkom is om tot Maandag die 13de te kamp.
Die line up klink spektakulêr: Fokofpolisiekar, Albert Frost, Black Cat Bones, Taxi Violence, Tidal Waves, Basson Laubscher and the Violent Free Peace het ek al baie gesien en kan ek aanbeveel om te gaan uitcheck. Kyk byvoorbeeld Albert Frost wat die SAMA gewen het vir die beste Rock album verlede jaar. Vir hom het ek ewige respek. Hy het saam met my Smoorverlief Oppikoppi gedoen in 2009. En jare later het hy by Wasgoedlyn Backsberg, toe my guitar-amp halfpad in die show die gees gee, die hele show op sy eie gedra, sonder dat enige iemand eers geweet het dat iets gebeur het. Ons het met hom gaan gesels om te hoor waar dit alles begin het en hy het ongelooflike kennis van SA se musiekgeskiedenis, wat hy met ons gedeel het. Hier is ‘n klein uittrekseltjie van daardie samewerking:
Wat kan mens sê oor Fokofpolisiekar wat almal nie alreeds weet nie? Hulle is die GROOTSTE Afrikaanse band in Suid-Afrika, hulle praat vir hulself. Taxi Violence het ek vir die eerste keer gesien in ‘n gepakte venue in Johannesburg en hulle het die plek omgedolwe met hul mal energieke ruk en rol. En dan is hulle doodeenvoudig die aangenaamste siele wat jy kan ontmoet. Basson Laubscher is fenominaal. Hy het gespeel in Zinkplaat, ‘n Afrikaanse band wat ek verskriklik baie lief het. Sy nuwe stuff met die Violent Free Peace showcase, sy next level guitaring. Uitstekend. Dan die Black Cat Bones, ai, wat sê mens oor die Bones, weet julle dat hulle jaarliks kos en geld insamel vir ‘n weeshuis in Mosambiek? Rockers met harte. Ons het ook gaan inloer by Kobus de Kock Jnr. Kom ons praat liewer nie, kom ons luister eerder bietjie hier waar hy hartroerend gestroop sing:
Tidal Waves verdien ‘n plek in SA se reggae hall of fame en luister jy na “Lekker lekker dans” sal jy verstaan as hul voorsanger, Jakob, sê: “Die wat nie kan Afrikaans praat, hy moet nou loop jong”. Tidal Waves beteken partytjie. Tidal Waves alleen is genoeg rede om na Misty Waters toe te gaan.
Dan is daar ‘n hele lys bands waaroor ek nou eers my huiswerk moet gaan doen waarna ek uitsien om te hoor by Misty Water, ek noem maar net (jy ken hulle tien teen een beter as ek, laat my gerus maar weet). Ek luister op hierdie oomblik na Wolfgang Marrow, en dis musiek met passie, lekker guitaring en sielvolle manlike en vroulike sang, sien uit om dit op die verhoog te sien. Tjek dit bietjie:
Dan is daar Don’t poke the bear, FlØris, Adele Nqeto met ‘n pragtige stem, Zebra, Raygun Royale, Hellcats.
Maar wie ek graag volgende op die Wasgoedlyn wil sien is Sean Koch, luister bietjie hier en kyk na hierdie incredible video:
Ek het nog nie naastenby by almal uitgekom nie, oe, dit gaan sielsverrykend lekker wees. Kom soek ons bietjie op by Misty Waters by Lake Umuzi in Mpumalanga 10 – 12 Mei.
Vir meer info oor kaartjies, verblyf, bands etc gaan na: https://mistywaters.lakeumuzi.co.za/
Media, Optredes
Bitterjakkals boei tronk gehoor tydens AG Visser tribute
Ware Wasgoedlyners is nie bang vir die donker nie. Ware Wasgoedlyners weet wat regtig saakmaak. Hulle is tasbaar, tog aanpasbaar en hoewel meeste van hulle meer roem verdien as wat hul ooit sal ontvang, is daar altyd iewers iemand wat aan hul lippe hang.
So het Jaco van der Merwe tydens ‘n optrede in Heidelberg se Ou Tronk daarin geslaag om ‘n paar mense te convert. Vir die wat dit nie gevoel het nie, was sy woorde en akkoorde nie bedoel nie, hoewel hy van die Britte se siele getroos het deur aan die einde van sy vertoning meer bekende tronkliedere wat in die buiteland hul oorsprong het te speel.
Dit was, in sy eie woorde, een van die weirdste shows wat hy nog ooit gedoen het.
Dalk het die feit dat hy sy show in scrubs begin het iets daarmee te doen. Miskien het die sprekers wat oor spoke en doodskote gepraat het hom uitgefreak.
Die liriekspoeger wat meer bekend is as die stem van Bittereinder, was die gaskunstenaar tydens die Heritage Association of South Africa se jaarlikse simposium waar daar, onder meer, ‘n ode aan die digter/dokter AG Visser gerig is.
Dat hulle daarop aangedring het dat hy ook die gaskunstenaar by die Gala ete wat die volgende aand plaasgevind het moes wees het sy verstand tebowe gegaan.
“Bra, ek dink regtig nie ek gaan ‘n match wees vir so stywe funksie nie,” was Jaco se woorde.
Organiseerder Este Galloway het hierop reageer: “Jaco is ons man vir die Gala aand. Finish en Klaar.”
Ietwat teen sy sin het hy vir ‘n tweede aand Snorcity verlaat om in Bybelberg op te tree. Die klanktoestel wat die plaaslike Hoërskool moes voorsien het nooit opgedaag nie – bang was Jaco egter nie.
Jaco het goed vir die eerste aand voorberei, maar gou besef het dat oorlede Braam Kruger (Kitchen Boy) nie ‘n grap gemaak het toe hy geskryf het dat die bloed van Bloedrivier nog diep in diè dorp se are vloei nie.
Dit was nietemin ‘n geskiedkundige optrede. Kunstig en smaaklik soos die skaap wat local legends Evert en Kraay op die spit langs die verhoog gebraai het.
Een van die hoogtepunte van die aand was ‘n voorlesing van ‘n gedig deur die uitvoerende hoof van Heidelberg Hospitaal (voormalig AG Visser Hospitaal).
Dr Masilela het verduidelik hoe Visser se gedig Amakeia (‘n voorval uit die Sesde Bantoeoorlog) hom as kind respek vir die taal en sy mense gemaak het.
Dit was ‘n besondere eer vir die dokter om aand deel te neem en dit het net weer as ‘n bewys gedien dat as daar liefde vir ‘n saak is, taal, ras en politiek nie regtig soveel saak maak nie.
In die rekordboeke van die Ou Tronk wat deur die orde vir gesneuwelde soldate instand gehou word staan daar vandag dat Jaco van Merwe Visser se gedig “Toe die wêreld nog jonk was” met die hulp van ‘n looping pedal so cool laat klink het dat selfs die geharde boere in die gehoor nie kon help om hul koppe op die maat van die beat te knik nie.
Jaco jy is ‘n yster en ek sien persoonlik daarna uit om jou episode op Die Wasgoedlyn se tweede reeks te kokenotch.
Bonita Claasen Photography
Vergeet van alles wat jou onderwysers vir jou op skool geleer het. Vergeet van die reëls wat die slim mense in hul hogere instansies uitgedink het, en bly uitdink. Vergeet ook van ‘n suiwertaal – want dit bestaan nie.
Afrikaans het nie ‘n baas nie en Churchil Naude is behoorlik gatvol vir alles en almal wat diè taal met hul konserwatiewe denkwyses versmoor.
In ‘Die Woord’ bevraagteken hy die oorsprong van die reëls en met die hulp van oudiovisuelestorieverteller Frans Borman word daar vanuit ‘n ander hoek na die taal, ons taal, gekyk.
“Daar is mense wat dink hulle besit die taal, so hierdie kan dalk as ‘n ligte aanval op die instansies wat die taal bly onderdruk gesien word,” reken Churchil wat heel in sy noppies met diè snit van sy nuwe album ‘Kroesified’ is.
Hy beoog om Kroesified vroeg volgende jaar te voltooi.
“Die manier wat mense Afrikaans in Pretoria praat is moerse anders as hie inni Kaap, so wies hulle om te bepaal hoe ek my taal moet praat?”
Churchil het onlangs ook ‘n fees gevra om hulle net so bietjie wyer te maak deur die gemeenskap van Mitchell’s Plein deel van hul 2017 program te maak.
Hulle het hom ignoreer.
Hiermee ‘n uitreksel van die brief: “In Huisgenoot se 100ste jaargang het die tydskrif daarvan melding gemaak dat sowat twee derdes van sy lesers bruin is. Organisasies soos AfriForum gebruik ook graag die feit dat daar meer bruin Afrikaanssprekendes is as ‘n debatpunt, maar stel nie soveel belang in die pleit van die meerderheid wat Afrikaans as hul huistaal beskou nie. So het ek by Cape Town International ‘n ruk gelede besef dat daar nie een bruin skrywer se boek op die plaaslike boekwinkel se rakke was nie. Daar is duisende Afrikaanse feeste, een op feitlik elke dorp, maar in min gevalle val die kollig op bruin kunstenaars. Waar is al die bruin mense op TV? Waarom hoor ek net wit stemme as ek my radio aansit? Waar is die bruin helde waarna my kinders moet opkyk?”
Maar voor jy na die video kyk, onthou egter net een ding, as jy dit nie voel nie, is dit nie vir jou bedoel nie. (musiek deur Riku Lätti)
Bekendstelling, Media
Die Woord (Nie vir sensitiewe tiewe nie)
Op Toer
Die Koning van Boesmansriviermond
By Boesmansriviermond was dit kinderspeletjies
So bietjie meer as 120km noord van Port Elizabeth vind jy Boesmansriviermond, waar gasvryheid en langarm niks vreemds is nie.
Hier het Die Wasgoedlyn saam met Jacques de Coning, eienaar van Bushman’s Bar and Grill so bietjie musiek gemaak en twak gepraat.
Die uitsig van hul stoep af is ook nie te versmaai nie.
Regs voor die kroeg, so paar meter voor die ingang sit Pierre. Pierre groet met die linkerhand want hy het so paar jaar gelede sy regter in ‘n fratsongeluk verloor.
Van die gaste sluit in Springbok spandokter Dr Conrad von Hagen en sy gesin.
Riku besluit daar en dan om ‘n paar snitte van sy album Janneman in die Diereryk te speel. Vir die kinders.
By Boesmansriviermond is nie net die dorp se naam ‘n mondvol nie. Die De Conings maak ook ‘n burger wat diè kenner daartoe gedryf het om daaroor te moet skryf.
Grote is nie alles nie. Die geheim lê natuurlik in die patty. Ons leer later dit is ‘n De Coning resep.
Vir die familie wat in BBG’s kuier sorg Jacques dat daar aan elke versoek voldoen word as hy saam met Riku, wat vir ‘n slag die baskitaar tokkel, op die verhoog klim.
Op die dromme is daar ‘n man met die naam Fernando.
“Yes we could hear the drums Fernando, dit was baie cool,” vertel Riku,

*Die Wasgoedlyn bedank graag die personeel by BBGs en veral Jacques de Coning wat sy huis, hart en pragtige kuierplek aan Die Wasgoedlyn gehang het.
*Die Wasgoedlyn word die naweek in Pretoria gespan. Vir meer inligting, kyk na ons vertoningsgids.
Op Toer
‘n Normale dag op Die Wasgoedlyn?
Soos ons deur die land reis ontvang ons dikwels oproepe van organiseerders wat wil uitvind waaroor Die Wasgoedlyn gaan. Hul wil weet wat om op die verhoog te verwag asook die formaat wat gevolg gaan word.
Die eenvoudige antwoord is dat geen vertoning van Die Wasgoedlyn dieselfde is nie en dat daar iets unieks sal plaasvind.
So het ons verlede week vanuit Groot Brak die wasgoedlyn tot in Knysna gespan en hoewel daar soveel opwindende dinge gebeur het, was dit dalk ook die beste voorbeeld van hoe ‘n normale dag op Die Wasgoedlyn afspeel.
Hier is ‘n blow-by-blow van die “normale”:
Die Wasgoedlyn wil hiermee vir Cecily en Jackie van BetterLive vir hul moeite en liefde bedank. Hulle sorg dat van ons land se beste musikante in Knysna, en ander dele van die tuin roete optree. Gaan gee hul Facebook blad ‘n like.
Die Wasgoedlyn word die week in Pretoria gespan met optredes by Dowe Digters, Fanie’s Place en Cafe Barcelona.
Vir meer inligting, kyk na ons vertoningsgids.
Op Toer
Kruger/Kersfeesvader op Die Wasgoedlyn
Sinterklaas gee na bewering elke jaar vir elke kind in die wêreld ‘n geskenk, maar nie elke kind verdien ‘n prezzie nie.
So het Stef Kruger oor die afgelope 40-plus talle geskenke aan Afrikaanssprekendes uitgedeel. Dalk te veel. Sy woorde het kunstenaars soos Dozi op die map geplaas en daardie selfde woorde het tot ‘n groot mate ‘n sin van eenvormigheid in ‘n andersins gesplete musiekwêreld tot stand gebring.
Dinsdag het Stef sy wonderwoorde aan Die Wasgoedlyn by Black Vanilla in Groot Brak gehang en ook bewys dat daar wel ‘n kunstenaar is wat met ‘n meer belaglike broek as die een wat Riku Lätti gewoonlik dra, op ‘n verhoog te verskyn.
Riku het sy pienk nommertjie by die huis vergeet, hy pak die #SpanDieLyne toer met so ‘n nuwe zef jeanpant aan.
Buiten ‘n legendariese komponis is Stef ook ‘n grapgat. Hy belowe egter tong-in-kies dat sy stories op ware verhale baseer is, hoewel die waarheid in sy musiek aansienlik meer vir die verbeelding laat.
Sy liedjies het, en bly steeds, die musikale verwysingsraamwerk in ons land verander. Het ons al die woord legende genoeg gebruik?

Stef het tydens die optrede – wat ook ‘n mode-parade ingesluit het – nie een snit van ‘n ander kuntenaar gespeel nie.
Ek speel nie covers nie so dit was vir my lekker om vir ‘n slag musikante soos Riku en Petronel se musiek te speel, of te probeer speel, wys Stef sy beskeie deel.
Tog, vir diegene wat hom dalk vir die eerste keer teekom kon dit netsowel ‘n Afrikaanse treffers show gewees het.
Ons is almal grassade my kind. – Stef Kruger
Riku het natuurlik binne etlike minute met die trekklavier ingeval terwyl die Suid-Kaap se dame van klawers en harte, Petronel Baard, ook nie die geleentheid om saam met die legend te speel misgeloop het nie.
Petronel is nou amptelik ‘n dame. Sy het onlangs die naughty 40s betree en verkies om onder geen omstandighede in Johannesburg spitsverkeer agter die stuur te wees nie.
Sy het ook reeds genoeg bergpasse met haar groen karretjie trotseer en sy ken feitlik elke kinkel op die pad tussen Kaapstad en Pretoria.
Soos dit ‘n goeie dame betaam geniet sy ook per geleentheid ‘n glasie wyn en met Du Toitskloof wat hul druiwe op Die Wasgoedlyn gehang het, kon sy saam met Riku, Jackie, Johan Smit en Bamboesina van die See ‘n onvergeetlike skemerkelkie voor die vertoning geniet het.
Riku: “Ons wil hiermee DuToitsKloof, Bernard Kotze in besonder, vir hul bydrae tot die sukses van ons toer bedank.
“Hierdie wêreld-eerste Pikke-pikkewyntoer met Pinotage Merlot Ruby Cabernet gaan goed af met ‘n vuurtjie en warm geselskap met vriende.
“Kyk uit vir die Wasgoedlyn, ons is tien teen een al oppad na jou dorp toe. Kom hang aan die lyn, 11 Augustus om 20h30 op kykNET NOU! op DSTV kanaal 146”
Petronel se stem is net eenvoudig een van daardie dinge wat mens in jou leeftyd moet ervaar. Om daaroor te skryf is sinneloos.
En soos dit nou maar by enige Wasgoedlyn samekoms gebeur, het sy ook haar eie stempel op van haar mede-kunstenaars se liedere afgedruk.
“Petronel is van ons kerk se mense. En dit wat sy hier in Groot Brak doen is fantasties vir Afrikaans en musiek.”
Petronel bied elke ander week ‘n sogenaamde Oermoer byeenkoms aan waar daar om ‘n vuur of in ‘n park, koffiewinkel of iewers in ‘n wonderskoon Suid-Kaape tuinmusiek gemaak word.
“Elke Oermoer, seker nes elke Wasgoedlyn-vertoning, is anders,” verduidelik Petronel.
“Die een aspek wat egter nooit verskil nie is die gees by ‘n Oermoer. Almal bring ‘n dis en daar word gedeel en gesels en musikante word die geleentheid gebied om dit wat hul geniet te doen vir mense wat ‘n regte waardering vir musiek het.”
DIE #SPANDIELYNE TOER IS MET TROTS GEBORG DEUR

Bekendstelling, Op Toer
Magiese afskop vir die Wasgoedlyn

Daar is ‘n pragtige lied deur Arlo Guthrie “Alice’s restaurant” waar die geselskap ter sprake meer as een keer ‘n “thanksgiving dinner” ervaar “that couldn’t be beat. Hierdie aand was ‘n verhaal van ‘n konsert that couldn’t be beat.
Vroeër vanjaar het die Wasgoedlyn die voorreg gehad om by US Woordfees en Solms Delta Oesfees met die Klein Libertasteaterkoor (KLTK) op te tree.
Verskeie ontmoetings met die koor later het in vriendskappe ontaard en selfs die herdoping van die KLTK na die Churchil Naude-Koor toe. Sien dié spesifieke rymkletser van Mitchell’s Plain is nie soos die deursnit rapper wat met sy DJ en ‘n paar backtracks opdaag en selfverheerlikende rympies uitspoeg en “sy eie naam roep dat dit weerklink” nie.
Nee, Churchil Naude voel tuis wanneer daar ‘n hele span musikante om hom speel en almal gelyk en lewendig musiek maak waaroor hy dan sy digterlike woorde inbed. En sy woorde is fantasties, dit begin almal nou al weet. Gaan google bietjie wat sê Koos Kombuis oor Churchil Naude.
Die voordurende vriendskaps/werksverhouding tussen die KLTK en Die Wasgoedlyn het beteken dat toe daar sprake was van ‘n huiskonsert met Churchil Naude, Riku en Jackie Lätti en die alombeminde Gert Vlok Nel, was daar net vir omtrent net een dag lank kaartjies beskikbaar. Dolla, die konsert se gasvrou, het spesiaal moes plek maak op haar balkon om mense wat nie kon wegbly nie, ook te akkommodeer.
Gaste is met die soet klanke van Bacchus Nel se nuutse plaat in die agtergrond verwelkom waarna Riku en Jackie, met die hulp van kontrabaskoning Johan Smit, harte warm gemaak het.

Tydens die konsert het Riku ‘n hele paar nuwe liedjies (wat binnekort op CD vrygestel word) vir die eerste keer voor ‘n gehoor opgevoer. Dit was weereens ‘n bewys van die talent en veelsydigheid wat Riku in ‘n klas van sy eie sit.
Vir ‘n voorsmakie van die nuwe album, luister gerus hierna:
Dalk was dit die vonkelwyn, of dalk die watertand tamatiesop, maar teen die tyd wat dit Gert se beurt was om musiek te maak was almal teenwoordig in ‘n besondere goeie gees.
Oudergewoonte is daar ‘n traan of twee tydens diè legende se optrede gestort.
Met Louis Awerbuck, Johan en Riku wat onderskeidelik met mondfluitjie, kontrabas en trekklavier Gert ondersteun het, was dit beslis nie net beautiful in Beaufort Wes nie.
Later het die oomblik waarvoor soveel van die Churchil Naude-Koor lede gewag het aangebreek.
Churchil was spreekwoordelik stomgeslaan toe hy weereens besef het hoe groot impak sy woorde op diè groep mense uit ‘n ander lewensbaan gemaak het.
Die feit dat enige iemand my lirieke terug rap saam met my is fantasties. Ek het nooit gedink ‘n klomp wit tannies van Stellenbosch sou my musiek so goed ken nie. Dis befok.
Die kletsrymer is ‘n wasgoedlyner van formaat en het kort na sy optrede Riku en Jackie bedank vir die bydrae wat hul reeds tot sy loopbaan gemaak het.
Dit is deur die Wasgoedlyn dat ek nou my album uit het –dit is ‘n befokte initiatief wat Riku begin het en die feit dat dit van die hart af kom, en jy kan sien dit kom van die hart af, is die rede waarom ek deel is daarvan.
Die Wasgoedlyn word vandag, 19 Julie, tussen Strand en Groot Brak gespan waar Petronel Baard en Stef Kruger by Black Vanilla vir nog soet klanke sal sorg.

Op Toer
Span die lyne – Landswye toer
Die Wasgoedlyn – Span die lyne toer het sopas begin! ‘n Toer wat strek oor die hele land in opgewondenheid oor die Die Wasgoedlyn TV reeks wat vanaf 11 Augustus Donderdag aand om 20h30 op kykNET Nou! begin wys.
Missie: Die Wasgoedlyn gelei deur Jackie en Riku Lätti, onderneem om stadig van die Kaap tot by Oppikoppi, deur die land te reis met heelwat stoppe op interessante plekke om konserte met verskeie nuwe en talle oues, te hou.
Sien die land. Vliegtuie het ons die geleentheid gegee om ver te reis sonder om te weet hoe die land lyk.
Ontdek nuwe talent. Die Wasgoedlyn is opsoek na skeppende kunstenaars om mee te werk op die tweede reeks van Die Wasgoedlyn TV program.
Hou uitmuntende konserte oral waar ons hang. Inspireer mense en jy skep ‘n gesonde borrelende gemeenskap van skeppers wat hou daarvan om die siele van mense te roer (ons is almal beter af as ons die beste uit onse mense te voorskyn bring).
Dra iets by. Skep iets nuuts. Ons nooi almal wat ons teëkom om hul skatte in ‘n gemeenskaplike skatkis te plaas waarvan ons almal die vrugte kan geniet.
Ervaar iets besonders in jou eie leeftyd.

Toer datums vir Julie
- 19 Julie – Black Vanilla (Groot Brak)
- 20 Julie – Amuse Fusion Food (Knysna)
- 22 Julie – Port Elizabeth (Jan de Koning)
- 23 Julie – Dewetsdorp
- 24 Julie – Rosendal
- 28 Julie – Dowe Digters (Pretoria)
- 29 Julie – Fanie’s Place
- 30 Julie – The Good Luck Bar
- 30 Julie – Cafe Barcelona
- 31 Julie – Pretoria (huiskonsert)
Volg gerus die #SpanDieLyne toer op twitter, facebook en instagram.
Die #SpanDieLyne toer is met trots geborg deur








Recent Comments