Januarie 2026
Ons definisies perk ons in
So belangrik soos identiteit is, net so onbelangrik is dit. Die “Nie in my naam”-beweging van ’n groep Progressiewe Afrikaners (PA) het juis tot stand gekom omdat die Konserwatiewe Afrikaner (KA) totale eienaarskap van die term “Afrikaner” wou toe-eien deur die valse narratief te dryf dat spesifiek Afrikaners om rasredes uitgemoor word.
Was dit nie om die definisie van die woord “Afrikaner” nie, sou die “Nie in my naam”-beweging nooit bestaan het nie. Dit klink so voor die hand liggend dat dit amper onnodig is om te sê. Maar klein waarhede het groot gevolge.
Vir ’n liggaam om ’n groen trui te dra, soos die Springbokke, is belangrik. Op die einde van die dag, om Naas aan te haal, het net een span met een identiteit die Wêreldbeker gewen. Geen opinie, binne of buite daardie span, kan die feite van die dag verander nie. Die Springbokke is die onbetwisde wêreldkampioene. Soos een man sou hulle vir Rassie inval om vir die ganse SA die beker te wen. Maklik, elegant is identiteit as almal een is.
Dat plaasmoord as uitverkore moord bestempel moet word, het iewers onder die Konserwatiewe Afrikaner (KA) ontstaan, en daar is bewyse dat dié gedagte deur AfriForum aangeblaas en gepropageer is. Weereens is dit nodig om ’n voor die hand liggende feit uit te wys: dat plaasmoord, grusaam en betreurenswaardig soos dit is, nie ’n aanduiding is dat daar in Suid-Afrika ’n beleid of veldtog bestaan om spesifiek Afrikaners uit te moor vir hul wit vel nie.
Daar is moontlik van die moorde wat geïdentifiseer kan word as gemotiveer deur velkleur. Suid-Afrika het steeds nie sy rasseprobleme opgelos nie, so natuurlik gebeur sulke moorde. Maar net so is daar vandag nog voorvalle van wit mense wat swart mense om presies dieselfde redes vermoor, en niemand sal daardie enkele voorbeelde gebruik om te argumenteer dat daar ’n volksmoord deur wittes teen swartes gepleeg word nie. Selfs die getalle is nie in die volksmoord-argument se guns nie. Op Soweto-dag is meer swart mense vermoor as in tien jaar se plaasmoorde.
Die hartseer vir die KA is dat die PA, klein soos hul groepie ook al is, die KA die reg ontneem om die term “Afrikaner” te gebruik om hul wit-volksmoord-narratief te dryf. En dis juis omdat die PA so ’n klein groep is dat dit die KA so ontstel. Hoe kan so ’n noemenswaardig klein groep die mag besit om die oorgrote meerderheid se opinie (of emosie) se legitimiteit so te verwoes?
Wat het geword van “Soos een man sal ons vir jou val”? Die PA verraai mos nou die Afrikaner, volgens die KA. Dis asof al die Sprinbokke vir SA uitdraf, behalwe Willie le Roux se wit broek speel vir die Engelse span. En, gemeet aan die kommentare op die blaaie, is dit die grootste misdaad sedert Piet Retief vermoor is.
In die oë van die KA is die PA die kankergewas binne die Afrikaner—die gedeelte van die liggaam wat die geheel ondermyn. Daarom die vyandigheid jeens hierdie klein minderheid. Daarteenoor is die KA vir die PA die kanker in die groter prentjie van ’n demokratiese SA.
Ons is dus nou in ’n Afrikaner-konfrontasie, en niemand durf waag om sy oë van die ander te haal nie. Intussen het die krieketseisoen al vir die res van die wêreld begin, om nog ’n bietjie krag uit die kolonialistiese sportmetafoor te wurg.
Die deurbraak na helderheid kom wanneer ons na die definiëring van die woord “landsverraaier” kyk. Tydens die 1992-referendum is die PA’s gesien as die landsverraaiers wat die land aan swart mense sou oorhandig. En Kerkorrel het gesing in BMW: “Moet ons alles dan verniet weggee?”
Vandag sit die Afrikaner steeds met ’n disproporsioneel groot hoeveelheid land en welvaart in SA. Die PA’s is nou herdefinieer as “volksverraaiers”, terwyl die KA’s, as’t ware, beter pas onder die definisie “landsverraaier”, aangesien daar onder daardie geledere duidelik meer lojaliteit bestaan vir Orania, Amerika (en selfs Israel) as vir Suid-Afrika.
Dit is dus ironies dat die KA’s nog so aandring om Die Stem by hul saamtrekke te sing, want hulle deel duidelik nie meer die sentiment van die woorde “ons vir jou, Suid-Afrika” nie. Ons kan om die feite wals, of ons kan erken dat dit die dawerende terughunkering na apartheid is—die verlange na ’n ondemokratiese SA waar die wit man heers met die wil en stempel van God, soos deur hulself uiteengesit. Dit verklaar ook die lojaliteit teenoor Israel (die wêreld se mees suksesvolle apartheidstaat), selfs terwyl Israel ’n volksmoord pleeg wat hulle, ironies genoeg, ontken.
Die KA’s en die PA’s staan weerskante van ’n groot kloof en skree in die ooptes na mekaar. Dis juis hier waar die kranse antwoord gee. Elke groep aan elke kant hoor net die boodskap in die eggo wat hy kies om uit die lawaai te hoor.
Dis hier waar ons definisies ons toetentaal in die steek laat. Nie die KA of die PA is ’n homogene groep nie. Daar is radikales en gematigdes aan alle kante. Ook kan mense wat liberaal is op sekere gebiede, as erg konserwatief op ander bestempel word. Byvoorbeeld: ’n liberaal wat erken dat apartheid ongelooflike skade aan swart mense se kanse op welvaart aangerig het, maar wat terselfdertyd konserwatief staan om te keer dat welvaart vandag herverdeel word. “Dit sal die mark in duie laat stort as ons vandag besluit dat eiendom niks meer beteken nie,” redeneer my denkbeeldige liberale karakter. Nie alle liberales is kommuniste nie. En nie alle liberales het swart vriende nie. Daarteenoor is daar talle KA’s met heelwat meer betekenisvolle kontak met swart mense op voetsoolvlak as sommige PA’s in tuis-ingerigte ivoortorings.
Daarom is dit nodig dat ons weer na ons definisies kyk en bepaal tot watter mate dit ons dien, en tot watter mate dit ons verdeel. En is die bediening die verdeling werd?
Ons verloor mekaar se medemenslikheid as ons eers ’n definisie is voordat ons mense is. Baie van hierdie definisies word so ferm en onwillig op mense afgedwing dat die definiëringsproses mense verder van mekaar vervreem as wat hulle werklik is.
Kyk byvoorbeeld hoe goed die anonimiteit van toevallige ontmoetings in die publiek werk. Hoe minder ons van ’n persoon se politieke identiteit weet, hoe groter is die kans op vriendelikheid. Ongeag die groot ideologiese kloof tussen mense, bly daar ’n kans vir medemenslikheid, en kan kontak selfs brue bou vir ’n avontuurlustige groep wat wil sien hoe die wêreld buite sy eie lager lyk.
Natuurlik sal daar mense wees wat standvastig aandring op die behoud van hul standpunt über alles. Jy gaan nooit almal kan oortuig om gemeenskaplike grond te betree nie, maar net so gaan jy min bereik as jy nie beleefd met mense buite jou bende kommunikeer nie.
Tans gaan die wêreld gebukkend onder swak leierskap. Goeie mense in Suid-Afrika sukkel onder die swak ANC-regering. Net so is daar goeie mense in Israel en Amerika wat, ondanks swak leierskap, steeds ’n bestaan moet voer en ’n lewe wil lei waarop hulle trots kan wees. Net so is daar ook mense binne die geledere van AfriForum en Solidariteit wat die goeie gemeenskapswerk en geleenthede waardeer, maar nie met die raspolitiek van Afrisol saamstem nie. Die huidige Afrisol-leierskap dwing egter mense om die raspil te sluk in ruil vir die ekonomiese en maatskaplike bemagtiging wat Afrisol bied.
Nie elke lid van AfriForum en Solidariteit is verantwoordelik vir hul organisasies se politieke standpunte nie—net soos nie alle Suid-Afrikaners met die regering saamstem nie, en net soos nie alle Springbokke noodwendig met alles saamstem wat Rassie doen nie. Daarom is dit nodig om te erken dat ’n term wat jou definieer, maar net ’n baadjie is wat jy kan aan- en uittrek. Die ware identiteit van wie ’n individu is, is veel meer as die klere wat hy of sy dra. As ons dit onthou, kan ons mekaar in die oë kyk, ongeag die verskillende baadjies wat ons dra.
My hoop vir SA is dat ons as land, ten spyte van ons verskille, almal vir dieselfde span sal skree—en ja, die afrigter, hetsy die ANC, Erasmus of wie ook al, met die nodige respek sal uittrap waar dit moet—maar nie die land sal verraai wanneer ons verskil nie, deur by die All Blacks of Amerika aan te sluit.Ons pad na ’n beter toekoms loop deur demokrasie. Ons moet, as land, die ANC uitstem, en dit is besig om te gebeur. Net so sou dit gesond wees as elke party en/of organisasie ontslae kan raak van leierskap wat nie die meerderheid van sy mense se waardes deel nie. Dit is moontlik om van swak leiers in elke gemeenskap ontslae te raak. Maar daarvoor is kommunikasie nodig—die soort kommunikasie wat nie die rug verstyf en die toks dieper trap om harder terug te druk nie, maar kommunikasie wat toorn verlaag en die hand uitreik.
Januarie 2026, Uncategorized
Die Nuus
In ’n verrassende wending het president Cyril Ramaphosa die vredeshand uitgereik na Donald Trump, president van die VSA. Dit nadat Trump gewys het dat hy nie meer speletjies speel nie. Hy het Venezuela met militêre presisie en dissipline binnegeval. Slegs 80 mense is verwoes, dood, of erger, agtergelaat om president Maduro na Amerika te ontvoer.
In ’n persverklaring, op wit papier, het Ramaphosa se kantoor erken dat hulle ’n internasionale insident wil vermy. Hulle het ook gesê dat dit onnodig is om die kleur van die papier te vermeld. “Not everything is about colour.” Ander partye het aangedring om te verskil.
Onbetroubare bronne vertel dat Ramaphosa die Maduro-ontvoering op TikTok regstreeks aanskou het en aan ’n meneer Niemand Inpartikulêr in ’n sagte dog sombere toon gesê het: “We’d better not p!ss this guy off any more than we have already done!”
Na bewering het Ramaphosa die hoof van die Suid-Afrikaanse vloot, vise-admiraal Monde Lobese, ontbied om uit te vind hoe beskikbaar daardie oorblywende boot van die Suid-Afrikaanse Vloot is om ’n “baie spesiale rusbank” aan president Trump te stuur. Die admiraal het dadelik ’n komitee in die lewe geroep om ’n komitee aan te stel om ondersoek in te stel na die seewaardigheid van die genoemde boot.
Toe Ramaphosa dit hoor, was hy dadelik op soek na sy iPad om te google of daar nie vinniger maniere is om ’n vredesrusbank na Amerika te stuur nie.
Ramaphosa het gesê hy sal selfs versoeke van Jaco Kleynhans, een of ander iets van Orania, aanhoor as dit Trump gelukkig genoeg sal maak om hom nie te wil ontvoer nie. Kleynhans het dadelik gevra vir die onafhanklikheid van Orania, waarop Ramaphosa geantwoord het dat hy dit sal oorweeg, solank hulle afstand doen van hul begeerte om Orania te herdoop na Afrisrael, in solidariteit met Israel. Ramaphosa het gesê dat dit net eenvoudig een stap te ver sal wees gemeet aan hoe Israel sy buurlande behandel.
Na bewering het Trump in sy stoel aan die slaap geraak nadat hy verneem het oor hoe min olie Suid-Afrika beskik.
Dae later, na die ondersoeke oor die ondersoeke afgehandel is, het Ramaphosa verneem dat dit dalk maande gaan neem om die vredesrusbank in Amerika af te lewer, gegewe dat ons oliereserwes ook tans redelik laag is. Ramaphosa het gesê dat hy in daai geval maar hoop dat hulle hom na ’n lekker deel van Amerika sal ontvoer en nie na ’n kultuurwoestyn soos Texas of Alabama nie.
Intussen het Ramaphosa sy iPad gekry en ’n vonkpos aan president Trump gestuur, wat deur Elon Musk onderskep en op X gepubliseer is:
Dear you highest excellency (and greatest) President Trump
This is me, your other black friend (and also president) Ramaphosa, president of South Africa, remember me? I hope I can call you my friend since Diddy, your only other black friend, is now in jail. (Okay, apart from Ye.) I am surprised that you have not yet pardoned Diddy yet. What’s up with that? Is it because he is black? I hope he survives jail seeing that Epstein, your best white friend, could not even manage that.
But let us not beat around the bushes; I want to be your friend and I think that you also want to be my friend because no one can call you racist if you have two black friends, can they?
I want to send you a present, but in order to do so, I ask if you can please send me some of Venezuela’s oil so that we can fuel our boat to deliver your present directly to Mar-a-Lago, if that is good for you. It would be good for us, since it is a lot closer to us than Washinton, DC.
Also if you send us enough oil we can send you more Afrikaners and this time we can bypass the Kenian passport stampers that we “accidentally” deported. I hope you are not still angry about that! Let bygones be gone by! That is what I say. What do you say?
Anyway, we have also renamed the Sun City golf course the Donald Djy Trump, of course, as a pre-emptive prize for your peace.
So help me God!
Amen
Yours fearfully
President (but not as “be best” as you, haha you see what I did there? Give my regards to Melania)
Cyril Ramaphosa.
Woordvoerders van beide Musk en Ramaphosa wou nie woorde voer om te ontken of die brief werklik die woorde van Ramaphosa is nie.
Op Fox News het Brian Killmedead stotterent gesê hy reken nie “Trump sal werklik vir Ramaphosa ontvoer nie, hy is darem maar net te swart … gesmeer … ek bedoel … hoeveel fentaniel kom werklik van Suid-Afrika by Amerika uit?”
’n Geheime agent, Justin Case van 45 Something Blvd, Denver, Colorado, het na bewering ongesiens, onverwags uitgeroep: “Mense dink nog die Maduro-ontvoering gaan oor drugs? Niks sal my meer verbaas nie! Ons gaan seker Groenland ook binneval en annekseer oor drugs!”
Niemand Inpartikulêr was teenwoordig om te ontken dat hy vingeraanhalings gebruik het.
Die internasionale gemeenskappe is bekommerd dat Trump se aksies die natuurlike wêreldorde kan omverwerp. Geheime antieke geskrifte is in skrywer Dennis de Bruyn se besit gevind wat beweer: “Wêreldorde is slegs moontlik mits die eenhorings nie Noag se ark verpas nie.” Wie weet of daardie voorspelling enigsins steek gehou het? Nietemin, wêreldorde ontwyk ons steeds.
Lande soos Meksiko het verlange uitgespreek na stabiele oorlogspresidente soos Bush en Bush, wat verkies het om oorlog te maak in die Ooste. Die verre, verre Ooste.
’n Vriend van ’n ou kennis van iemand wat president Claudia Sheinbaum, president van Meksiko, nie meer kan onthou nie, het gesê:
I really don’t like this latest trend that the USA is now referring to the “Western hemisphere”. This is really too close to home. It was better when they were talking about the States as “America” … It is like the guy in the corner of a Stephen King novel: You do not want the crazy guy next door to become aware of your existence!
So gepraat van die stil ou in die hoek van die kamer wat vir die eerste keer praat in die movie, wat nie eers sy oë wys onder sy stetson om advies te lewer nie. Sy kommentaar is:
This is the dumbest war America has ever started, and this just to win the Nobel Peace Prize. My advice is for everybody just to stay home, and keep low, America is blowing herself up. Just stay alive until it’s over. Keep yourself occupied with the gentle art of doing nothing.
Ironies genoeg is hy opgemerk toe hy hierdie wyse woorde kwytgeraak het en is deur ICE gedeporteer na Venezuela, wat voortaan sal bekend staan as “Ook-Amerika”.
Na nagte van angs waarin Ramaphosa nie na Amerika ontvoer is nie, het Cyril ’n vonkpos terug van Trump ontvang waarin hy sê:
Dear Cyril, given that the rand and all the Brics currencies have been rising constantly against the dollar, I was just dropping in to ask South Africa, and all the countries we are currently destabilizing, to help the US pay for that service, and to do so fast, because Mexico is very far behind in their wall payments. The matter is pressing! Thank you for your attention to this matter. You favourite President, Me.
Cyril het net laat weet die tjek is in die rusbank op die boot, Suid-Afrika wag net op die olie … Ons verwag dit gaan ’n lang, vreedsame oorlog wees vir Suid-Afrika.
Sun Tzu het blykbaar gesê: “The supreme art of war is to subdue the enemy without fighting.” Waarop Trump geantwoord het: “The supreme war of art is to subdue the fighting without an enemy.” Hy’s miskien nie verkeerd nie, maar die ANC het ’n komitee op die been gebring om te ondersoek wat dit beteken. Hulle sê hulle sal ná die volgende verkiesing heel moontlik nie na ons toe terugkom nie.
Niemand Inpartikulêr het gesê: “Jou goeie naam is iets wat jy verloor sodra jy dit gebruik.” Ondersoeke word ook geloods om uit te vind wat dít beteken.
Daarmee dan die nuus vir nou. Skakel in vir die nuus om agt.
Ek is Jan van der Volkswagen.
Tot iets anders gebeur, tot siens vir eers.
Op Toer
Op die Mieliepoptoer met Wasgoedlyn
Dag 1 en Jackie M vat die stuur sometime na Worcester en die uwe dink hy kan gou-gou ‘n joernaalinskrywing maak, want wat die laaste 24 uur gebeur het is te mal om te wil vergeet, maar gegewe die spoed waarteen dinge beweeg sal gegewens maklik deur die krake die niet in verdwyn, daarom dan hierdie joernaal. Ek wou beriggewing doen oor die asembenewende snelheide wat kan bereik word in ‘n voertuig as Jackie M agter die stuur is, maar toe ek opkyk is ons agter ‘n Tazz vasgekeer teen 40km/h deur Lainsburg.
“Tekens” is die eerste woord die oggend van die ontwakende Jackie M in die donker huis in St. Rand. Dis kwart oor drie die oggend. Die eerste van die twee olifante in die kamer is die elektrisiteit wat gistraand so net na elf afgegaan het. Ons het vergeet om Eskom te koop. Die meter sit in ‘n kas in die kombuis. Dis maklik om van iets te vergeet as dit jou nie in die oog staar elke oggend nie. Die tweede teken is die fokkol geld in ons bankrekening en die belofte van inbetaling wat nie verskyn nie. Moet ons ry, moet ons nie? As ons ry there would be trouble, if we stay it would be double. Ons moet ry. Ons is op.
Ek maak Les J se leë bed wakker. Die voordeur is oop. Hy kom van buite af in uit die donker na die kontrasterende donkerte van binne. “Loit kan die sleutels nie vind nie.” Hy is vasgekeer in die cottage. Sleutels soek in daglig is iets wat ek al soveel keer meegemaak het dat ek patente gekonsetualiseer het vir sleutelopspoor gadgets. Tel nou nog die duisternis by en die feit dat my patent nog nie prototipe het nie en ons sit met ‘n derde teken.
Kitare, trekklaviere, tromme en kak word als in ons rooivlamwa gelaai. Uitendelik maak Loit S sy verskyning.
“Hoe lykkit?” vra ek.
“Dit lyk na niks in die donkerte, ehêh,” kom die lag van Loit se kant af.
…
Ons laai vir Ruben S in Helderview in die skemerte voor daglig. Ons slat die groot pad met garage pies en koffie en die eerste lat so bietjie diekant van Worcester by ‘n stop and go. Alles voel stop and go. Expect 10 minutes delay at every instance. Maar daais eintlik alles in jou kop, want die natural flow van alles skep die illusie van stilstand so tussen die beweging, wanner in der waarheid alles pretty damn vinnig aanstap. Het ek genoem dat Jackie M nogal fokkof? Ons pyl op Beaufort-Wes af en ek dink aan die Kaptein G wat so amper ‘n arm laat draai het om in te klim, maar wie se awersie vir Gauteng my uit meegevoel sy arm sonder verdere insident aan hom terugbesorg het.
Ons is werklik op pad. Geen omdraai nou meer nie en ek wonder hoe lekker word Rian M nou wakker met die wete dat ons mik om sy wêreld in groot getalle binne te val, kop tot toon bewapen met allerlei instrumente en geen benul wat ons gaan speel nie. Al wat ons weet is Donderdagaand sien die Wasgoedlyn se afskopvertoning in the Room, Stanley 44, Jhb, Suid-Afrika, Afrika, Planeet Aarde, hierdie melkweg, hierdie heelal. Ek het ook nog nie werklik bevestig wie almal daar gaan wees nie. Piet B het genoem hy maak ‘n draai. Bacchus sê hy kom met Rynier Ersnt Julius Prins en Marissa W. Dan Loit, Les, Jackie M en die uwe… Dit maak eintlik nie saak wie kom nie, wat ons gaan speel nie, dit gaan net fokken awesome wees.
…
Dis na nege. Ek gaan loer of ek nie iets kan wyser raak oor die oplossing van Teken 2 nie. Bel vir Coenraad S. Hoor wat hy sê. Hoop vir bucks voor Colesberg. Hy antwoord nie. Dis net-net na nege. Hy is ‘n organiser van ‘n rock fees, die bra slaap seker steeds. Ons ry voort op ‘n huilmêrrie. Leeugamka. Loit sal jou sê “gam” is die Khoi woord vir leeu in anycase. Toutologie dus. Ons ry oor die leeu rivier by leeuleeu. En Jackie M mompel: “Daar is niks wat my so grief soos ‘n spoedgrens nie.” Jackie se sinne verkort deur die weglating van vloekwoorde. “Speel daar vir ons die insekte, Michael Jackson, enige iets.” Vroetel-vroetel met ‘n nukkerige frontloader CD player wat die Beatles weier. Michael word aanvaar, ironies nogal iets wat nie in sy eie leeftyd gebeur het nie. “Daarsy!” begin die Jackie haar Jackson “hie-hiees”. Tussen songs vra sy: “Antwoord daai dude nie sy foon nie?” Ek skud my kop en sy “Billy Jean… not my lover… the kid is not my son… hie-hie-hiee.”
anyway ek moet ry, chat later…
Op Toer
Dag 6 Deel 2: Showtime
Ons bestorm daai stage soos ‘n honger skoolrugbyspan ‘n skinkbord lemoene in halftyd. Les plak heel regs. Dis waar jy hom sal kry. Ver regs. Dis hoekom die boere sy musiek so baie like. Langs hom kap Loit vir hom so plekkie uit. Dan positioneer Lochner homself en langs hom Rian M. Tussen my en Rian M is Jackie M, net waar sy wil wees as ons begin speel. Maar meer daaroor later, kom ons bly by die musiek vir nou. Aan my ander kant gaan staan die sexy Lanimybru en ek voel soos ‘n ster omring deur sex appeal en goeie muso’s.
Wat soek ek nou weer? O ja, die sound guys was excellent, sodra die man sy plek gekry het was daar iemand by wat wou weet: wat soek jy bra? Mics? Kabels, alles? Want ons het alles. Agter op die tromme skuif Bradley C in en Ruben is so chuffed want hy gaan speel op Uriah Heep se keyboard met hulle setlist van laasnag op die keys vasgeplak. Moerse chuffed, check die foto’s… in sy noppies.
Daar is nie juis sprake van soundcheck nie, ons is betyds, maar nie vroeg nie, ons val weg met Hoofstroom. Dis ons eerste nommer en sommer ons soundcheck song ook, want almal speel iets op die track. My kitaar werk. Ek speel die eerste paar note. Dan hoor ek van my regterkant Les se mic werk. Sy heilige mondfluitjie in D kom oor die klanksisteem en ek sien hoe die mense begin omdraai en opkyk. Dan hoor ek Bradley stadig bykom met die beat. Het ek genoem dat ons glad nie ‘n rehearsal met hierdie groep saam gehad vir hierdie show nie? Maar dis hoekom Bradley daar is, want hy vat ‘n sekonde om te hoor waantoe die song moet gaan en dan vat hy jou soentoe. Dan kom Pete by, solid op D, die band spring weg, ek sing en skielik is ek nie alleen nie:
hoofstroom, verbode rivier
word meer as ‘n mens
‘n heilige dier
Lanimybru en Jackie M dra my met engele stemme. Ons is onderweg. Hoofstroom smelt in Oom Ben van Les Javan in. Les vertel my die song is ‘n verwerking van ‘n ellelange song van iemand anders, maar hoe dit ook al sy, dis vir my een van die all time great songs daai:
Ek droom vanaand van oorle Ben
o, ek droom vanaand van oorle Ben
in die donker hom hy aan my rem
Ek deel my hart in drie
o, ek deel my hart in drie
maar in duisend stukke nie
Een na die ander sing die manne op die stage die mooiste songs en ek smile al die pad hier stilletjies binne my hart.
Loit speel so eksentrieke stuk goema chant vibe, wat noem mens dit Loit? Lochner speel ‘n song “die muur” van sy nuwe album:
te lank geleef om bang te wees
vir een of ander spook of gees
te veel geleef om te versoen
met boetes wat ek steeds moet doen
geen mites rites en dies meer
geen lesse om te leer
vergeelde wense teen die muur
verlore tyd kom weer
Dan kom die Wasgoedlyn Manifesto…. Hou so ogie op hierdie blad, want dit sal met tyd hier gepubliseer word.
Dan meneer Malan met Jezebel:
Selfde mense, selfde bar
jy stap in, almal sê siedaar
ek wys niks, speel dit koel
niemand kan sien hoe ek werklik voel…
Jezebel, emancipate me from your spell…
(gaan kry die res van www.tunelink.co.za)
Ons val weg met Human:
I heard from the mountain some people were singing
the old man was crying his children are dying
from the mountain top I heard them sing
like a million voices all into one:
Human,
we are Human…
Die eerste set eindig met ‘n musikale orgasme as die hele band in 6de rat inskop en laat spat. As jy so ‘n hoogte bereik het, dan is daar nie meer plek boontoe nie. Dis wanneer ek almal van die stage afjaag en Bacchus Nel opstuur, net hy en Marissa. Hulle maak mooi, die res van die band kyk van die kant van die verhoog hoe Bacchus die vaandel dra. Dan een een dik sy groep aan. Bradley gaan op, ondersteuning op die tromme en Pete op bass by. Dan kom Les en ekke en Lochner en die band word so bietjies bietjies groter. Tot op die ou end almal weer op die verhoog is en met voller borste almal gelate:
Hei hei hei hei Lucy
Ek wens jy wil nog een keer vir my dans
Partytjie! Tweede musikale orgasme.
Dan begin alles weer van voor af. Almal van die verhoog af. Almal behalwe Les Javan. Hy begin met ‘n solo stuk net om vir die mense te wys dat hy weet watter kant van die kitaar om vas te hou. Vir sy tweede nommer speel hy ‘n stuk met Greg Georgiades, Urpha. Awesome!
Dan stukkie vir stukkie kom die manne weer by en kort daarna: die derde musikale orgasme. Dit kook. Greg gooi daai vreemde solos. Bradley sit soos yster, Pete gooi ‘n swing in die mix en dit ruk mal. Na die maniese Vallei gebeur al die wonderwerk. Nie gedink ons sal weer daardie hoogtes bereik nie, maar ons het. En toe, hoe maak mens nou, ons bo teen die dak? Toe maak die hemele oop met Sarah, Icon, van Loit. Dis asof God haarself na die partytjie toe genooi het begin die reën saggies val. Ons is geraak.
Uitasem, sal hier breek. Dit was heilig, daar is niks meer om te sê nie.
(Onthou as jy nog nie jou Wasgoedlyn volume 1 se tunes gaan download het by http://tunelink.co.za nie, waarvoor wag u? Four Vark Steaks!)
Op Toer
Dag 6 Deel 1: Showtime
Daar is min wat soveel onmin saai soos ‘n foon wat met verkeerde tyd rondloop. Volgens my berekeninge sal als glad verloop as ons Johannesburg 8 uur die oggend verlaat. Dit beteken 10 uur in Ermelo give or take a coffee break. Dit beteken minstens ‘n uurtjie of wat vir piepie, rondkyk en soundcheck. Dit beteken 6 uur opstaan. 7 uur in die kar wegry van Natasha se huis om al die manne op te laai almal versprei oor Johannesburg soos marshmallows in ‘n boks Rice Krispies.
Met die wakkerword is die eerste teken van tyd die helder lig wat deur die kamervenster val. Die tweede was ‘n alarm. Was daar ‘n alarm? Oe, ek weet nie meer nie, ek sal ‘n swak getuie in die hof maak. Die derde was ‘n foon wat sê 06:16. Ah, nie te laat nie, dog ek, nou moet ek net die manne almal wakker kry. Loit slaap oorkant die gang. Maklik genoeg, ek klop aan die deur. Hy sê hy is al lankal wakker, sit regop in die bed. Les en Melissa is by De Waal se huis in Melville aan die ander kant van die swart rivier genaamd Empire. Rian is in Emmerentia slash Greenside. Lochner naby De Waal in Melville. Pete, wie weet waar bly Pete. Rian weet. Egbert bly in Springs oppad Ermelo toe naby die N17. Dis dan maklik, roete uitgewerk: Loit, Les, Lochner, Rian, Pete, Egbert, Ermelo en dan soek ons die fees. Daar sal genoeg tyd wees.
Skok een. Die donnerse foon het gelieg. Dis al na 7. Fok weet.
Skok twee, rys is skaars – hongersnood imminent. Ek en Jackie M sit al lankal in die vlamwa en wag op die donnerse Loit wat al lank voor ons wakker is en ons nou laat wag. Vir wat wag ons nou weer? Ek en Jackie M kyk vir mekaar, sê nie ‘n woord nie, maar ons beide se kyke gesels lang sinne vol vloekwoorde…
Ek klim uit die vlamwa wat nou al geruime tyd lank luier en vind Loit in die kombuis besig om te gesels met Florrie. “Loit, ons is laat, wag net vir jou!”
“Ek soek rys, hulle het nie rys nie, jy weet, rys vir my shaker.” Loit maak shakers uit pille blikkies/boksies/botteltjies. Nou vra ek saggies vir myself: wat help vroeg wakker wees as jy ons in elk geval laat gaan maak?
Loit in. Les en Melissa opgelaai, in. Lochner, op en in. Rian opgelaai en in. Op pad na Pete se huis vra Rian: “You know where’s Sylvia’s Pass?” Ons kry Pete se huis maklik genoeg, klim op die snelweg oppad Springs toe, vang so bietjie spoed, maar ons is laat. Dan draai ek af en Rian raak nervous: “We don’t have any time for detours, Riku.” Ek verseker hom ons gaan nie detour nie, ons gaan net naby Egbert se huis petrol ingooi en, terwyl ons nou daar is, hom sommer net oplaai.
Kry vir Egbert by ‘n Engen naby sy huis. Hy besluit hy ry met sy eie kar. Lochner klim by hom, want nou kan hulle lekker rook, want in Egbert se kar word lekker gerook. Jackie M is ook by Egbert in. Dit was Egbert se besluit vertel Jackie M.
Ons vat die grootpad met ‘n vetspoed, bietjie onwettige snelhede maar nou ja, ek sal ‘n swak hofgetuie maak het ek mos al gesê. “Sorry, your officer, I’ve got this holy fear of needles, so I hardly looked where it was!” That’s my story.
Ry deur Ermelo en ek vertel weer Johannes se grappie oor Ermelo (vergeet miskien? Lees dag 1). Dan raak ons bietjie onseker. Buite Ermelo vat ons die pad Lothair toe, maar Bacchus bel en vertel van ‘n ander pad. Ons stop en wag. Draai om. Draai weer terug en kry uiteindelik die eerste tekens van Mieliepop reg by die ingang van die fees. “Wat van ‘n paar Mieliepopfees-bordjies van Ermelo af ouens? Of is julle bang mense kom op julle af?” dog ek sag vir myself.
Ons slat daai grondpad deur die hekke op pad fees toe, by die hek vertel ons ons moet oor 10 minute op stage wees. Hulle draai nie doekies om nie, gee ons ons VIP bangles en whathaveyous daar en dan. Ons jaag verhoog toe, klim op ‘n verkeerde paadjie (swak gemerk ouens), ry deur ‘n kampterrein, sien die stage van ver af, ja ons sal ‘n ander pad moet van om oor die rivier te kom. Ons wikkel deur klippe en graspolle, klim op ‘n pad wat die rivier oorsteek, ry by ‘n verbode ingang in tussen al die mense deur en stop reg langs die stage presies 5 minute voor twaalf. Ons is nie fokken laat nie! Puik Timing. Ek’s sommer trots op almal.
Almal spring uit die kar uit en dra instrumente stage toe. Dirk Ace is op stage, hy vertel hy dog ons gannie kommie, al klaar besig om ‘n ander band te organize, maar hier’s ons nou so let the games begin!
…word vervolg….
Onthou as jy nog nie jou Wasgoedlyn volume 1 se tunes gaan download het by http://tunelink.co.za nie, dan moet ons maar vra, wat de fok is fout met jou? Dis koel tunes bra!
Op Toer
Dag 5 (ek dink, oe ek raak so deurmekaar): Wasgoedlyn doen Janneman in die Diereryk
Natasha se huis. Ons staan laat op. Hoe anders, uitgeput van die vorige dae en nagte se doene en late. Saterdag. ‘n Dag af. Ons gaan rugby kyk en fokkol doen. O, wag so bietjie, nou onthou ek, iemand het ‘n belofte gemaak dat ons Janneman in die Diereryk vir ons vriende se kinders gaan opvoer. Sommer in Natasha se huis. Ai, wanne het wie gedink dis ‘n goeie idee? Daai iemand was seker weer ek. Ek herinner myself daaraan dat ek iewers die wyse raad gelees het wat sê moenie besluite maak wanneer jy kwaad is nie en moenie beloftes maak wanneer jy happy is nie. Nou onthou ek, dit was in ‘n kring buitekant die venue waar ons gespeel het, wat ek dink daar toe besluit is dat dit ‘n goeie idee sou wees om vir die kinders ‘n show te reël. Mmmh, advies se waarde word altyd eers waardeer wanneer jy dit nie gevat het nie.
Sjoe, ek’s lekker moeg wetie of ek kans sien vir hierdie spulletjie nie, maar gelukkig kon ek nie lank daaroor tob nie, want toe ek my voete vind is die tafel in die eetkamer uitgedra en die kussings op die vloer gegooi. Plek reggemaak vir klompie woelige kinders wat nou enige oomblik sou opdaag. Ai, ek slaan my oë op na Natasha se medisynekas. Waar sal my energie vandaan kom?
Hoedens en kleuvolle hemde word aangedra. Ons lyk soos ‘n sigeunersirkus toe Natasha met ons klaar is. Daar is iets omtrent ‘n kostuum of ‘n masker wat jou metamorfeer. Skielik is jy iemand anders en nie meer so tam en boring soos die persoon wat jy eens was nie.
Ek het hoeveel duisend vertonings al gelewer en ek kan met alle eerlikheid erken, ek raak nie meer bang of senuwee-agtig voor ‘n vertoning nie. Dis nou tot ek begin het met die kindershows. Ag jinne, kinne. Dis nou ‘n ander tipe druk daai. Die oë van die kleinspan wat jou stip aanstaar en sê: “wel hier is ek nou, entertain me.” Dis wanne mens begin twyfel en van voor af wonder: “is ek regtig goed genoeg?” Maar daai twyfel verdwyn so met die slaan van die eerste noot, want dan is daar nie meer tyd vir twyfel of weifel nie. Dan is daar net die oomblik self. En die oomblik verlang ‘n daad. En doen moet jy doen. Daar gat ons al weer. Voor al die gesiggies op die banke, op die kussings op die vloer en weggesteek buite val ons weg:
As jy deur die land wil ry
kom ons gaan nou na die stasie toe
en wanneer jy op die platform staan
langs die grootste trein wat ooit bestaan
klim op in sy lang vet lyf
jy kom ons gaan nou na die stasie toe
Ek is ‘n stoomtrein
‘n stoom-stoomtrein
met die rook wat bo verskyn
Ek’s ‘n baie ou masjien
‘n dekade of tien
het ek hier langs rondgery
Daar vertrek Janneman op sy reis deur die oerwoud en vat al wat kind is saam. Sjoe kindershows wil gedoen word. Dit bly die beste oefening vir ‘n middeljarige musikant. Natgesweet. Loit sit in op perkussie en Les gooi so paar lekker note op kitaar. Jackie M hou die kleinspan aan die gang. Kry hulle om te dans en te sing en op te spring en rond te hol. Sy’s superenergiek vir ‘n ouma. Maar dan is sy ‘n superjong ouma. Hoe gebeur sulke goed? Sal ons dit los vir ‘n dag wanneer ons nie besig is met ‘n kindervertoning nie?
Janneman se laaste note maak klaar en die trein vertrek en die kinders verdaag met die lokomotief. Miskien nou is daar ‘n ruskansie vir ‘n moeë musikant? Ja, die rugby gaan begin. Die tafel word ingedra. Die braai word aangesteek, die reën begin val. Omtrent alles in daardie volgorde. Nee wag, die rugby het na die reën eers begin. WP het gewen, bla bla bla, wie gee om as die Lions nie speel nie. Kerrie kap. Ek verkies biltong en braaivleis, so hou die kerrie. En die koppie. Ek val neer op die bank. Sien hoe hardloop die manne heen en weer. Sien hoe min gee ek om? Ek ontspan. Len braai vleis, Borrie pak tasse vir Swede. Loyd lê op die bank. Hy is ‘n Shark. Die ref is so onregverdig. Kyk hoe gee ek om. Hierdie is my omgeegesig.
Ek dink so bietjie in die agterkant van my kop aan Peter Pearlson se birthday partytjie vanaand by die zoo lake bowling club. Weet nie of ek die energie gaan hê om te gaan nie, maar ek wil graag my vriend Jim Neversink gaan groet. Hy is hier uit Denemarke vir ‘n paar dae. Ek sal moet ja. Maar gee my krag. Môre moet ons Mieliepop toe ry. Dis in Ermelo. Waar is Ermelo. Laat my dink aan Johannes Vogel wat altyd gesê het: “Die lekkerste ding van Ermelo is dat jy enige plek kan gaan vir vakansie, want dit sal beter wees as Ermelo.” Haha, hy’s funny, eks moeg. Ek gaan nou rus. Gesels later. Tarra for now.
(As jy nog nie Wasgoedlyn volume 1 se liekies in jou besit het nie, gaan kry dit hierso:
https://www.tunelink.co.za
en lees seblief die bygaande verwelkomings briefie)
Op Toer
Dag 4: Lughawe toe: Besigheidsbesluite in ‘n bus
(Dag 3 het verlore geraak, goeie goed het gebeur maar te vinnig om tydjie te gehad het om neer te pen, jammer, bel maar vir die tyl. (As jy ons nommer vergeet het, onthou ons is nommer 1))
Sjoe, volgende oggende, almal ken daai, maar daai gevoel van iets amazings het gebeur en die begin is verby maar die Boeing is in die lug, en die baabelas wil jou herinner dat jy moet ly maar jy wil nie want te veel lekker gedagtes kom baklei vir plek in jou kop. Iets het gebeur die oggend 6h30. O ja, Mpho het gebel, die fokker, 06h30, for faak syks! Hy is verveeld by die huis wat gaan ons doen vandag. Ek vertel hom hy moet my ‘n uur gee vir ‘n insluimering. En word 4 ure later wakker, onthou toe eers van hom, gee ‘n bel, maak ‘n plan, gaan hom haal. Ons laai hom op.
Mpho, mmmh, hoe sal ek dit stel, hy is een van daai mense wat letterlik met almal op straat gaan praat. By die kafee stap ‘n ou Ma Veronica gebukkend met ‘n kierie oor die pad. Mpho gesels saamstapsaam met haar. Sy vertel sy was die victim van forced removals. Sophiatown, toe sy tien jaar oud was toe kom daai fokkers met hul kaspirs en laai die mense op. Wat ‘n Triomf. Maar sy is terug. Ons laai haar in, vat haar na die Anglikaanse kerk. Iets vertel my ons moet gou uitklim en gou by die kerk inloer. Wragtag daar stap ons die geskiedenis binne. Goeie roep, dankie Mpho dat jy gebel het al was dit so fokken vroeg. Ons ontmoet die Reverend en van die gemeentelede, ons kyk na die prentjies van die priester wat in Apartheidjare gewys het almal is nie so nie. Ons kyk na sy foto’s van die ou priester (ek het nou sy naam vergeet maar bel vir Mpho, hy sê dis Trevor Huddleston). Die pastoor vertel dat Trevor ook in daai jare die man was wat vir Hugh Masekela sy eerste trompet gegee het. Legend. Dat ons daar moes uitkom was bestem.
Mpho speel vir die pastoor en sy gemeentelede ‘n liedjie wat ek geskryf het:
I saw a man today
he was living in the street
had a wife and family
but none for them to eat
then a woman from the street
she came and shared her bread
she knew that she was someone’s child
when she looked into their eyes
and from a distant land
I knew a man who said to me
a man’s a man in my eyes
if a child is his in his
and to this day I still believe
that we all are family
everyone and everything
is a block from the same being
Mpho, ex-soldier en ekke kry trane in ons oë, liefde vloeie mense connect. Ons kry koekies van ‘n suster se eerste baksel. Lekker sy het goed gedaan. Ons groet geraak mekaar. ‘n Oomblik. Iets het gebeur. Magic.
Aangekom by Natasha se huis ontmoet Mpho die res van die gang, raak gewoond aan die slang. Onmiddellik vind Loit en Mpho mekaar en gesels heritage. Nog connections word gemaak. Les op en af soos ‘n beer, want hy wil lughawe toe want liefie land twaalfuur. Seker die eerste keer dat Les wou betyds wees vir enige iets op die hele trip. Wragtag, regtigwaar. (Jackie M se woorde sonder toestemming gesteel.) Mpho kry ‘n bak plan. Hy wil ons introduce aan Sifiso wat nou deel is van die regering se beplanning vir cultural development. Maar daar is probleme, daar is nie ‘n sekonde in hierdie vasgepakte dag om hom te ontmoet nie. Ons stop by die Xai-Xai waar Sifiso Ntuli besig is met ‘n besigheidsafspraak. Mpho hijack hom, ek sien hoe word ‘n vol guiness agtergelaat op die tafel. Later sou ek eers hoor dat Sifiso glad geen benul gehad het oor wat Mpho se duistere planne behels het nie.
Ons laai hom agter in die vlamwa. Loit en Les speel musiek vir hom. Hy begin vriendelik genoeg reageer totdat ons die hoofweg vat. Toe raak die man bekommerd. “Hey, listen guys, this hijacking, fun as it may be, is causing trouble with my agenda for the day, I have business and kids to take care of. Where are we going?”
Mpho sê vir hom terwyl ons ry in die middelste van 4 bane op die M2: “It’s ok, bra, we can just drop you off here, you can grab a taxi back to Melville.” Daarna was Sifiso se gelukkige gemoed by die venster uit. Die hele atmosfeer raak gespanne. Les is bekommerd oor Meisie wat wag op die lughawe. Sifiso is bekommerd oor guiness wat wag op die tafel. Riku wonder wat de hel om nou te doen: “I’ll just drive faster.” Jackie M het alles op video. Dis fokken funny nou, maar nie toe nie.
Iewers in die oomblik het Sifiso begin relax toe hy sien daar’s nie veel wat hy kan doen aan sy situasie nie. Les het die kitaar geneem, mooi gespeel. Radio Lava Live bly maar die bus se beste stasie. Sifiso sê later, “yes I can see that you can play music well, but what do you want from me.” Dis waar die samesprekings begin het. Sonder om al die details te verskaf maak dit my bly om te rapporteer dat die Wasgoedlyn saam met klomp ander inheemse kunstenaars deur die departement kuns en kultuur paar vertonings gaan hou. Hijacking suksesvol. Wat kan mens sê. Die Nuwe Suid-Afrikaanse Kultuur het meriete.
Op die lughawe by die drop and go kry ons meisie Melissa waar sy gesellig verkeer met die verkeersbeamptes. Sy klim by die kar in en die verkeerspolisie wil haar nie laat gaan nie. “When are you coming back? We want to see you.” Sjoe wonder wat de hel het sy gesê (of gedoen) vir hulle, want dit klink asof daar in ‘n kort tydjie liefde geblom het…. Lossit maar daar. Les raak stil en doodtevrede en spin soos ‘n katjie wat room gekry het, ‘n mak lammetjie met meisie aan sy sy agter in die vlamwa.
Net voor ons Melville binnery spring Mpho uit die bewegende vlamwa uit asof hy met die dood gedreig is en klim by die agterdeur in van ‘n pikswart 7 reeks BMW asof die maar is wat mense doen in Jhb. Dit was so surrealistiese moment. Voor ek nog kon wonder wat gebeur het ry ons verder, laai Sifiso af en bande is gesmee. Sjoe, dis nou al die derde sjoe (en daai was die vierde), maar die spoed waarteen alles afspeel is verbysterend. Vanmiddag het ons nog ‘n klein bymekaarkoms by Natasha se huis, want Grieta by the Room, het laat weet dat mense gisteraand se show so geniet het dat sy goeie geld sal betaal om ons vanaand weer terug te hê. Dis dan die plan. Sien hier gat ons weer!
(As jy nog nie ten minste Wasgoedlyn Vol 1 se liedjies het nie, los ‘n boodskap met e-pos adres, of gaan na http://tunelink.co.za, en ons stuur so gou soos nou die liedjies direk na u toe, waar dit hoort te wees.)
Op Toer
Dag 2 Deel 2: Die Wasgoedlyn se eerste optrede, JHB “the Room” 44 Stanley
Interessante toets het op ons gewag. Die feite is: Ons is ‘n versameling musikante, maar meer as dit, skeppende kunstenaars, wat nou saam op ‘n kleinerige verhogie vir die eerste keer ooit ‘n program gaan speel asof ons dit al jarre doen. Party van die musikante ontmoet mekaar vir die eerste keer daar minute voor die vertoning begin. Ek dink nie Rian Malan het ooit van Loit Sôls gehoor voor die Wasgoedlyn se Mieliepoptoer nie. Rian en Les het wel van mekaar geweet, want ek het baie van beide met die ander gepraat, maar vanaand is die eerste keer op aarde (let op geskiedskrywers) dat Rian Malan en Les Javan saam op ‘n verhoog sou verskyn.
Soundcheck sien ‘n chaotiese kombinasie verhoogskarrelendes wat vra: “waar’s die tuner? Watse mic is myne? Waar sit ek? Gaan jy op die kitaar speel? Vat jy die shakers? Wie op dromme? Waar is die fokken tuner? Wanne begin ons? Is julle reg, die mense kyk al na ons? Waarmee gaan ons soundcheck? Wat is die eerste song? Het iemand nog ‘n kitaarkabel? Hoekom werk my mic nie?” Al hierdie dinge gebeur terwyl Lochner rustig sy koffie teug en ‘n sigaretjie rook en Les J op sy eie in die Spar rondmission vir airtime (vir Melissa smsies) en iets by die Tops. Min gepla. Maar soos ek sê, eks op my eie min gepla oor Les, want soos ek voorheen gesê het, as Les opdaag, gaan mooi gebeur. Bacchus Nel daag op met sy hele band. Hoe de fok gaan almal op die verhoog pas….
Dan raak alles stil en almal sit en ons asem in en uit en wag vir die eerste noot. Ek is op die klavier val weg met Hoofstroom in D. D is ‘n goeie sleutel. Les het ‘n mondfluitjie in D. Dit klink mooi en skraal in die dikste musiekstrome sny dit van agter in die kamer reg deur tot voor in die gevoel. Daai triestige klankie wat mense hartseer en bly op dieselfde oomblik maak. Ek is in die ritme, ek hoor Les van anderkant die verhoog inval, dan is Pete by met ballas en Rian op ruggraatkitaar en die perkussie met Ruben en Loit begin inskop en die Wasgoedlyn is in die aanloopbaan na al die reise en regmaak soos ‘n groot Boeing met enjins wat opwarm, wegtrek en as die koor kom, opstyg: “Hoofstroom, verbode rivier, word meer as ‘n mens, ‘n heilige dier.”
Ons het vertrek. Ons is hier. Ons speel musiek. Ons verdwaal in toonlere en ritmes. Ek sien uit die hoek van my ook Grieta begin glimlag. Soos Rian sing: “Die glase klink, die dansers draai, hy hou jou vas, probeer koning kraai.” Oe die gotskap gevoel as jy met ‘n groot orkes ‘n lekker liedjie speel en almal gooi ‘n stem in die potjie. Die geheel is groter as die somtotaal van almal se bydraes. Dis waar die magic lê. Fok Mnet. Ek hoef nooit weer TV te kyk as hierdie lewensaar my siel so voed nie. Ek is verslaaf aan klanke maak. Die regte klanke met die regte mense op die regte manier. Ek sal help span aan hierdie ding; die Wasgoedlyn, laat ons sien hoe ver sy gaan. Maar om oor musiek te praat is om seks met behulp van masturbasie te probeer beskryf. Ek los dit liewer daar waar dit hoort. Mens u moet liewerste self kom luister. Die Wasgoedlyn kom. Kom pluk sy vrugte daar is baie om te geniet.
(As jy nog nie ten minste Wasgoedlyn Vol 1 se liedjies het nie, los ‘n boodskap met e-pos adres, of gaan na http://tunelink.co.za, en ons stuur so gou soos nou die liedjies direk na u toe, waar dit hoort te wees.)
Op Toer
Dag 2 Deel 1: Preparing for the big JHB show
Word wakker in Natasha en Len se huis. Gister voel soos ‘n blur. Lekker koppie koffie. My boetie in Australië verjaar vandag. Lochner bel, ons kom almal hier bymekaar. Natasha en Jackie M gesels oor Kingston and the Rasta. N wil sommer dadelik die band inskryf vir FORR. Maggies, dinge gaan vinnig, laat ons eers ‘n stukkie asemhaal met die goeie nuus dat teken 2 van gister se kommer iets van die verlede is met ‘n pragtagge sms van standardbank wat my vertel het dat my bank ont(mielie|)pop het in ‘n gesellige situasie.
Natasha se Len het tande laat trek om absesse en moontlike dood te vermy en die sit letterlik dikbek in die tv kamer toe ons gesig wys. Moedige man wat met groot pyn groot getalle rumoerige gaste in sy huis met vriendelikheid verdra. Op pad venue toe vertel Natasha dat sy baie ouens gedate het wat nice was, maar nie regtig hul lewens oopgemaak het vir haar manier van sosiaal verkeer nie. Len het op ‘n stadium haar laat verstaan dat hy weet daar sal nou maar net altyd mense en mense in sy huis wees, en dis fine met hom. Dis aanvaarding wat huwelike laat werk. Maar miskien is dit meer. Ons kom in die kamer opgemaak in haar huis vir ons om in te slaap en die enigste boekie uitgestal op die bedkassie: “WEES DIE VROU VAN ‘N GELUKKIGE MAN”. Die hoofletters is soos dit op die boek self verskyn en dit laat my voel asof die titel ‘n bevel is en nie ‘n voorstel nie. “Ja amen”, dog ek maar ek was nog nie gereed om volkome vrou te wees nie, toe paas ek die boekie aan na Jackie M toe. Tot my groot onsteltenis stel sy glad nie belang nie. Geskok. Seergemaak. Verstaan sy dan nie dat wanneer die man die spil is waarom alles draai dat die wiel van die vrou se lewe glad sal verloop nie? Dit staan alles daar op bladsy 31.
Hoe dit ook al sy, ons gaan nie toelaat dat huweliksprobleme ons Mieliepotoer in die wiele ry nie. By die venue, “the Room” by 44 Stanley, kry ons vir Lochner. Hy het ‘n pragtagge Wasgoedlyn manifes geskryf en geperform daar en dan. Grieta, in beheer van alles, kon nie ophou glimlag nie. Ons gesels oor tafels skuif, mensegetalle, stages bou en wasgoedlyn ophang. Die wasgoedlyn wat op die ou en gehang het, het sexy gehang met lingerie en lingerda. Eers later vind ek uit al die kinky goete was van Grieta afkomstig. Mmmmh, Grieta lyk na so ‘n lekker meisie.
Anyways, Rian bel: “Lyk my nie julle is daar nie.” O fok, ek het vir Rian na Natasha se huis toe geredirect vir ‘n rehearsal, meantime is ons venue toe. My beplanning darem…. Op die ou en dag die manne stuk-stuk by Natasha se huis op, eers Lochner saamet ons, dan Rian. Ons werk Lochner se liedjies uit, gaan goed, klink mooi. Ek dog by myself: “Legendary” hier sit ek tussen Rian Malan en Lochner de Kock. WTF, groot siele in die kamer. Toe daag die anne manne op. In stap die Loit en die Ruben en die Les Javan. Ons begin lekker lawaai, so mooi, groot dinge op pad. Minute later verdwyn Les internet toe. Boek en verskuif vlugte vir sy duifie van PE. Les sou eers weer verskyn toe ons die huis verlaat om te gaan soundcheck. Moeilik om rehearsal so te run, maar ek het vroeër vir Jackie M vertel dat met Les op die verhoog is ek gerus met die waarborg dat daar minstens een hoek is vanwaar goeie klanke altyd gaan voortspruit. And so it was proven to be the case yet again. Maar meer daaroor later. Ek stop vir ‘n breakfast breek. Chat nou-nou verder.





















Recent Comments