Vergeet van alles wat jou onderwysers vir jou op skool geleer het. Vergeet van die reëls wat die slim mense in hul hogere instansies uitgedink het, en bly uitdink. Vergeet ook van ‘n suiwertaal – want dit bestaan nie.
Afrikaans het nie ‘n baas nie en Churchil Naude is behoorlik gatvol vir alles en almal wat diè taal met hul konserwatiewe denkwyses versmoor.
In ‘Die Woord’ bevraagteken hy die oorsprong van die reëls en met die hulp van oudiovisuelestorieverteller Frans Borman word daar vanuit ‘n ander hoek na die taal, ons taal, gekyk.
“Daar is mense wat dink hulle besit die taal, so hierdie kan dalk as ‘n ligte aanval op die instansies wat die taal bly onderdruk gesien word,” reken Churchil wat heel in sy noppies met diè snit van sy nuwe album ‘Kroesified’ is.
Hy beoog om Kroesified vroeg volgende jaar te voltooi.
“Die manier wat mense Afrikaans in Pretoria praat is moerse anders as hie inni Kaap, so wies hulle om te bepaal hoe ek my taal moet praat?”
Churchil het onlangs ook ‘n fees gevra om hulle net so bietjie wyer te maak deur die gemeenskap van Mitchell’s Plein deel van hul 2017 program te maak.
Hulle het hom ignoreer.
Hiermee ‘n uitreksel van die brief: “In Huisgenoot se 100ste jaargang het die tydskrif daarvan melding gemaak dat sowat twee derdes van sy lesers bruin is. Organisasies soos AfriForum gebruik ook graag die feit dat daar meer bruin Afrikaanssprekendes is as ‘n debatpunt, maar stel nie soveel belang in die pleit van die meerderheid wat Afrikaans as hul huistaal beskou nie. So het ek by Cape Town International ‘n ruk gelede besef dat daar nie een bruin skrywer se boek op die plaaslike boekwinkel se rakke was nie. Daar is duisende Afrikaanse feeste, een op feitlik elke dorp, maar in min gevalle val die kollig op bruin kunstenaars. Waar is al die bruin mense op TV? Waarom hoor ek net wit stemme as ek my radio aansit? Waar is die bruin helde waarna my kinders moet opkyk?”
Maar voor jy na die video kyk, onthou egter net een ding, as jy dit nie voel nie, is dit nie vir jou bedoel nie. (musiek deur Riku Lätti)
Recent Comments