Op Toer
Dag 6 Deel 1: Showtime
Daar is min wat soveel onmin saai soos ‘n foon wat met verkeerde tyd rondloop. Volgens my berekeninge sal als glad verloop as ons Johannesburg 8 uur die oggend verlaat. Dit beteken 10 uur in Ermelo give or take a coffee break. Dit beteken minstens ‘n uurtjie of wat vir piepie, rondkyk en soundcheck. Dit beteken 6 uur opstaan. 7 uur in die kar wegry van Natasha se huis om al die manne op te laai almal versprei oor Johannesburg soos marshmallows in ‘n boks Rice Krispies.
Met die wakkerword is die eerste teken van tyd die helder lig wat deur die kamervenster val. Die tweede was ‘n alarm. Was daar ‘n alarm? Oe, ek weet nie meer nie, ek sal ‘n swak getuie in die hof maak. Die derde was ‘n foon wat sê 06:16. Ah, nie te laat nie, dog ek, nou moet ek net die manne almal wakker kry. Loit slaap oorkant die gang. Maklik genoeg, ek klop aan die deur. Hy sê hy is al lankal wakker, sit regop in die bed. Les en Melissa is by De Waal se huis in Melville aan die ander kant van die swart rivier genaamd Empire. Rian is in Emmerentia slash Greenside. Lochner naby De Waal in Melville. Pete, wie weet waar bly Pete. Rian weet. Egbert bly in Springs oppad Ermelo toe naby die N17. Dis dan maklik, roete uitgewerk: Loit, Les, Lochner, Rian, Pete, Egbert, Ermelo en dan soek ons die fees. Daar sal genoeg tyd wees.
Skok een. Die donnerse foon het gelieg. Dis al na 7. Fok weet.
Skok twee, rys is skaars – hongersnood imminent. Ek en Jackie M sit al lankal in die vlamwa en wag op die donnerse Loit wat al lank voor ons wakker is en ons nou laat wag. Vir wat wag ons nou weer? Ek en Jackie M kyk vir mekaar, sê nie ‘n woord nie, maar ons beide se kyke gesels lang sinne vol vloekwoorde…
Ek klim uit die vlamwa wat nou al geruime tyd lank luier en vind Loit in die kombuis besig om te gesels met Florrie. “Loit, ons is laat, wag net vir jou!”
“Ek soek rys, hulle het nie rys nie, jy weet, rys vir my shaker.” Loit maak shakers uit pille blikkies/boksies/botteltjies. Nou vra ek saggies vir myself: wat help vroeg wakker wees as jy ons in elk geval laat gaan maak?
Loit in. Les en Melissa opgelaai, in. Lochner, op en in. Rian opgelaai en in. Op pad na Pete se huis vra Rian: “You know where’s Sylvia’s Pass?” Ons kry Pete se huis maklik genoeg, klim op die snelweg oppad Springs toe, vang so bietjie spoed, maar ons is laat. Dan draai ek af en Rian raak nervous: “We don’t have any time for detours, Riku.” Ek verseker hom ons gaan nie detour nie, ons gaan net naby Egbert se huis petrol ingooi en, terwyl ons nou daar is, hom sommer net oplaai.
Kry vir Egbert by ‘n Engen naby sy huis. Hy besluit hy ry met sy eie kar. Lochner klim by hom, want nou kan hulle lekker rook, want in Egbert se kar word lekker gerook. Jackie M is ook by Egbert in. Dit was Egbert se besluit vertel Jackie M.
Ons vat die grootpad met ‘n vetspoed, bietjie onwettige snelhede maar nou ja, ek sal ‘n swak hofgetuie maak het ek mos al gesê. “Sorry, your officer, I’ve got this holy fear of needles, so I hardly looked where it was!” That’s my story.
Ry deur Ermelo en ek vertel weer Johannes se grappie oor Ermelo (vergeet miskien? Lees dag 1). Dan raak ons bietjie onseker. Buite Ermelo vat ons die pad Lothair toe, maar Bacchus bel en vertel van ‘n ander pad. Ons stop en wag. Draai om. Draai weer terug en kry uiteindelik die eerste tekens van Mieliepop reg by die ingang van die fees. “Wat van ‘n paar Mieliepopfees-bordjies van Ermelo af ouens? Of is julle bang mense kom op julle af?” dog ek sag vir myself.
Ons slat daai grondpad deur die hekke op pad fees toe, by die hek vertel ons ons moet oor 10 minute op stage wees. Hulle draai nie doekies om nie, gee ons ons VIP bangles en whathaveyous daar en dan. Ons jaag verhoog toe, klim op ‘n verkeerde paadjie (swak gemerk ouens), ry deur ‘n kampterrein, sien die stage van ver af, ja ons sal ‘n ander pad moet van om oor die rivier te kom. Ons wikkel deur klippe en graspolle, klim op ‘n pad wat die rivier oorsteek, ry by ‘n verbode ingang in tussen al die mense deur en stop reg langs die stage presies 5 minute voor twaalf. Ons is nie fokken laat nie! Puik Timing. Ek’s sommer trots op almal.
Almal spring uit die kar uit en dra instrumente stage toe. Dirk Ace is op stage, hy vertel hy dog ons gannie kommie, al klaar besig om ‘n ander band te organize, maar hier’s ons nou so let the games begin!
…word vervolg….
Onthou as jy nog nie jou Wasgoedlyn volume 1 se tunes gaan download het by http://tunelink.co.za nie, dan moet ons maar vra, wat de fok is fout met jou? Dis koel tunes bra!
Comments are closed






Recent Comments