Januarie 2026
Ons definisies perk ons in
So belangrik soos identiteit is, net so onbelangrik is dit. Die “Nie in my naam”-beweging van ’n groep Progressiewe Afrikaners (PA) het juis tot stand gekom omdat die Konserwatiewe Afrikaner (KA) totale eienaarskap van die term “Afrikaner” wou toe-eien deur die valse narratief te dryf dat spesifiek Afrikaners om rasredes uitgemoor word.
Was dit nie om die definisie van die woord “Afrikaner” nie, sou die “Nie in my naam”-beweging nooit bestaan het nie. Dit klink so voor die hand liggend dat dit amper onnodig is om te sê. Maar klein waarhede het groot gevolge.
Vir ’n liggaam om ’n groen trui te dra, soos die Springbokke, is belangrik. Op die einde van die dag, om Naas aan te haal, het net een span met een identiteit die Wêreldbeker gewen. Geen opinie, binne of buite daardie span, kan die feite van die dag verander nie. Die Springbokke is die onbetwisde wêreldkampioene. Soos een man sou hulle vir Rassie inval om vir die ganse SA die beker te wen. Maklik, elegant is identiteit as almal een is.
Dat plaasmoord as uitverkore moord bestempel moet word, het iewers onder die Konserwatiewe Afrikaner (KA) ontstaan, en daar is bewyse dat dié gedagte deur AfriForum aangeblaas en gepropageer is. Weereens is dit nodig om ’n voor die hand liggende feit uit te wys: dat plaasmoord, grusaam en betreurenswaardig soos dit is, nie ’n aanduiding is dat daar in Suid-Afrika ’n beleid of veldtog bestaan om spesifiek Afrikaners uit te moor vir hul wit vel nie.
Daar is moontlik van die moorde wat geïdentifiseer kan word as gemotiveer deur velkleur. Suid-Afrika het steeds nie sy rasseprobleme opgelos nie, so natuurlik gebeur sulke moorde. Maar net so is daar vandag nog voorvalle van wit mense wat swart mense om presies dieselfde redes vermoor, en niemand sal daardie enkele voorbeelde gebruik om te argumenteer dat daar ’n volksmoord deur wittes teen swartes gepleeg word nie. Selfs die getalle is nie in die volksmoord-argument se guns nie. Op Soweto-dag is meer swart mense vermoor as in tien jaar se plaasmoorde.
Die hartseer vir die KA is dat die PA, klein soos hul groepie ook al is, die KA die reg ontneem om die term “Afrikaner” te gebruik om hul wit-volksmoord-narratief te dryf. En dis juis omdat die PA so ’n klein groep is dat dit die KA so ontstel. Hoe kan so ’n noemenswaardig klein groep die mag besit om die oorgrote meerderheid se opinie (of emosie) se legitimiteit so te verwoes?
Wat het geword van “Soos een man sal ons vir jou val”? Die PA verraai mos nou die Afrikaner, volgens die KA. Dis asof al die Sprinbokke vir SA uitdraf, behalwe Willie le Roux se wit broek speel vir die Engelse span. En, gemeet aan die kommentare op die blaaie, is dit die grootste misdaad sedert Piet Retief vermoor is.
In die oë van die KA is die PA die kankergewas binne die Afrikaner—die gedeelte van die liggaam wat die geheel ondermyn. Daarom die vyandigheid jeens hierdie klein minderheid. Daarteenoor is die KA vir die PA die kanker in die groter prentjie van ’n demokratiese SA.
Ons is dus nou in ’n Afrikaner-konfrontasie, en niemand durf waag om sy oë van die ander te haal nie. Intussen het die krieketseisoen al vir die res van die wêreld begin, om nog ’n bietjie krag uit die kolonialistiese sportmetafoor te wurg.
Die deurbraak na helderheid kom wanneer ons na die definiëring van die woord “landsverraaier” kyk. Tydens die 1992-referendum is die PA’s gesien as die landsverraaiers wat die land aan swart mense sou oorhandig. En Kerkorrel het gesing in BMW: “Moet ons alles dan verniet weggee?”
Vandag sit die Afrikaner steeds met ’n disproporsioneel groot hoeveelheid land en welvaart in SA. Die PA’s is nou herdefinieer as “volksverraaiers”, terwyl die KA’s, as’t ware, beter pas onder die definisie “landsverraaier”, aangesien daar onder daardie geledere duidelik meer lojaliteit bestaan vir Orania, Amerika (en selfs Israel) as vir Suid-Afrika.
Dit is dus ironies dat die KA’s nog so aandring om Die Stem by hul saamtrekke te sing, want hulle deel duidelik nie meer die sentiment van die woorde “ons vir jou, Suid-Afrika” nie. Ons kan om die feite wals, of ons kan erken dat dit die dawerende terughunkering na apartheid is—die verlange na ’n ondemokratiese SA waar die wit man heers met die wil en stempel van God, soos deur hulself uiteengesit. Dit verklaar ook die lojaliteit teenoor Israel (die wêreld se mees suksesvolle apartheidstaat), selfs terwyl Israel ’n volksmoord pleeg wat hulle, ironies genoeg, ontken.
Die KA’s en die PA’s staan weerskante van ’n groot kloof en skree in die ooptes na mekaar. Dis juis hier waar die kranse antwoord gee. Elke groep aan elke kant hoor net die boodskap in die eggo wat hy kies om uit die lawaai te hoor.
Dis hier waar ons definisies ons toetentaal in die steek laat. Nie die KA of die PA is ’n homogene groep nie. Daar is radikales en gematigdes aan alle kante. Ook kan mense wat liberaal is op sekere gebiede, as erg konserwatief op ander bestempel word. Byvoorbeeld: ’n liberaal wat erken dat apartheid ongelooflike skade aan swart mense se kanse op welvaart aangerig het, maar wat terselfdertyd konserwatief staan om te keer dat welvaart vandag herverdeel word. “Dit sal die mark in duie laat stort as ons vandag besluit dat eiendom niks meer beteken nie,” redeneer my denkbeeldige liberale karakter. Nie alle liberales is kommuniste nie. En nie alle liberales het swart vriende nie. Daarteenoor is daar talle KA’s met heelwat meer betekenisvolle kontak met swart mense op voetsoolvlak as sommige PA’s in tuis-ingerigte ivoortorings.
Daarom is dit nodig dat ons weer na ons definisies kyk en bepaal tot watter mate dit ons dien, en tot watter mate dit ons verdeel. En is die bediening die verdeling werd?
Ons verloor mekaar se medemenslikheid as ons eers ’n definisie is voordat ons mense is. Baie van hierdie definisies word so ferm en onwillig op mense afgedwing dat die definiëringsproses mense verder van mekaar vervreem as wat hulle werklik is.
Kyk byvoorbeeld hoe goed die anonimiteit van toevallige ontmoetings in die publiek werk. Hoe minder ons van ’n persoon se politieke identiteit weet, hoe groter is die kans op vriendelikheid. Ongeag die groot ideologiese kloof tussen mense, bly daar ’n kans vir medemenslikheid, en kan kontak selfs brue bou vir ’n avontuurlustige groep wat wil sien hoe die wêreld buite sy eie lager lyk.
Natuurlik sal daar mense wees wat standvastig aandring op die behoud van hul standpunt über alles. Jy gaan nooit almal kan oortuig om gemeenskaplike grond te betree nie, maar net so gaan jy min bereik as jy nie beleefd met mense buite jou bende kommunikeer nie.
Tans gaan die wêreld gebukkend onder swak leierskap. Goeie mense in Suid-Afrika sukkel onder die swak ANC-regering. Net so is daar goeie mense in Israel en Amerika wat, ondanks swak leierskap, steeds ’n bestaan moet voer en ’n lewe wil lei waarop hulle trots kan wees. Net so is daar ook mense binne die geledere van AfriForum en Solidariteit wat die goeie gemeenskapswerk en geleenthede waardeer, maar nie met die raspolitiek van Afrisol saamstem nie. Die huidige Afrisol-leierskap dwing egter mense om die raspil te sluk in ruil vir die ekonomiese en maatskaplike bemagtiging wat Afrisol bied.
Nie elke lid van AfriForum en Solidariteit is verantwoordelik vir hul organisasies se politieke standpunte nie—net soos nie alle Suid-Afrikaners met die regering saamstem nie, en net soos nie alle Springbokke noodwendig met alles saamstem wat Rassie doen nie. Daarom is dit nodig om te erken dat ’n term wat jou definieer, maar net ’n baadjie is wat jy kan aan- en uittrek. Die ware identiteit van wie ’n individu is, is veel meer as die klere wat hy of sy dra. As ons dit onthou, kan ons mekaar in die oë kyk, ongeag die verskillende baadjies wat ons dra.
My hoop vir SA is dat ons as land, ten spyte van ons verskille, almal vir dieselfde span sal skree—en ja, die afrigter, hetsy die ANC, Erasmus of wie ook al, met die nodige respek sal uittrap waar dit moet—maar nie die land sal verraai wanneer ons verskil nie, deur by die All Blacks of Amerika aan te sluit.Ons pad na ’n beter toekoms loop deur demokrasie. Ons moet, as land, die ANC uitstem, en dit is besig om te gebeur. Net so sou dit gesond wees as elke party en/of organisasie ontslae kan raak van leierskap wat nie die meerderheid van sy mense se waardes deel nie. Dit is moontlik om van swak leiers in elke gemeenskap ontslae te raak. Maar daarvoor is kommunikasie nodig—die soort kommunikasie wat nie die rug verstyf en die toks dieper trap om harder terug te druk nie, maar kommunikasie wat toorn verlaag en die hand uitreik.
Comments are closed

Recent Comments