Januarie 2026
Ons definisies perk ons in
So belangrik soos identiteit is, net so onbelangrik is dit. Die “Nie in my naam”-beweging van ’n groep Progressiewe Afrikaners (PA) het juis tot stand gekom omdat die Konserwatiewe Afrikaner (KA) totale eienaarskap van die term “Afrikaner” wou toe-eien deur die valse narratief te dryf dat spesifiek Afrikaners om rasredes uitgemoor word.
Was dit nie om die definisie van die woord “Afrikaner” nie, sou die “Nie in my naam”-beweging nooit bestaan het nie. Dit klink so voor die hand liggend dat dit amper onnodig is om te sê. Maar klein waarhede het groot gevolge.
Vir ’n liggaam om ’n groen trui te dra, soos die Springbokke, is belangrik. Op die einde van die dag, om Naas aan te haal, het net een span met een identiteit die Wêreldbeker gewen. Geen opinie, binne of buite daardie span, kan die feite van die dag verander nie. Die Springbokke is die onbetwisde wêreldkampioene. Soos een man sou hulle vir Rassie inval om vir die ganse SA die beker te wen. Maklik, elegant is identiteit as almal een is.
Dat plaasmoord as uitverkore moord bestempel moet word, het iewers onder die Konserwatiewe Afrikaner (KA) ontstaan, en daar is bewyse dat dié gedagte deur AfriForum aangeblaas en gepropageer is. Weereens is dit nodig om ’n voor die hand liggende feit uit te wys: dat plaasmoord, grusaam en betreurenswaardig soos dit is, nie ’n aanduiding is dat daar in Suid-Afrika ’n beleid of veldtog bestaan om spesifiek Afrikaners uit te moor vir hul wit vel nie.
Daar is moontlik van die moorde wat geïdentifiseer kan word as gemotiveer deur velkleur. Suid-Afrika het steeds nie sy rasseprobleme opgelos nie, so natuurlik gebeur sulke moorde. Maar net so is daar vandag nog voorvalle van wit mense wat swart mense om presies dieselfde redes vermoor, en niemand sal daardie enkele voorbeelde gebruik om te argumenteer dat daar ’n volksmoord deur wittes teen swartes gepleeg word nie. Selfs die getalle is nie in die volksmoord-argument se guns nie. Op Soweto-dag is meer swart mense vermoor as in tien jaar se plaasmoorde.
Die hartseer vir die KA is dat die PA, klein soos hul groepie ook al is, die KA die reg ontneem om die term “Afrikaner” te gebruik om hul wit-volksmoord-narratief te dryf. En dis juis omdat die PA so ’n klein groep is dat dit die KA so ontstel. Hoe kan so ’n noemenswaardig klein groep die mag besit om die oorgrote meerderheid se opinie (of emosie) se legitimiteit so te verwoes?
Wat het geword van “Soos een man sal ons vir jou val”? Die PA verraai mos nou die Afrikaner, volgens die KA. Dis asof al die Sprinbokke vir SA uitdraf, behalwe Willie le Roux se wit broek speel vir die Engelse span. En, gemeet aan die kommentare op die blaaie, is dit die grootste misdaad sedert Piet Retief vermoor is.
In die oë van die KA is die PA die kankergewas binne die Afrikaner—die gedeelte van die liggaam wat die geheel ondermyn. Daarom die vyandigheid jeens hierdie klein minderheid. Daarteenoor is die KA vir die PA die kanker in die groter prentjie van ’n demokratiese SA.
Ons is dus nou in ’n Afrikaner-konfrontasie, en niemand durf waag om sy oë van die ander te haal nie. Intussen het die krieketseisoen al vir die res van die wêreld begin, om nog ’n bietjie krag uit die kolonialistiese sportmetafoor te wurg.
Die deurbraak na helderheid kom wanneer ons na die definiëring van die woord “landsverraaier” kyk. Tydens die 1992-referendum is die PA’s gesien as die landsverraaiers wat die land aan swart mense sou oorhandig. En Kerkorrel het gesing in BMW: “Moet ons alles dan verniet weggee?”
Vandag sit die Afrikaner steeds met ’n disproporsioneel groot hoeveelheid land en welvaart in SA. Die PA’s is nou herdefinieer as “volksverraaiers”, terwyl die KA’s, as’t ware, beter pas onder die definisie “landsverraaier”, aangesien daar onder daardie geledere duidelik meer lojaliteit bestaan vir Orania, Amerika (en selfs Israel) as vir Suid-Afrika.
Dit is dus ironies dat die KA’s nog so aandring om Die Stem by hul saamtrekke te sing, want hulle deel duidelik nie meer die sentiment van die woorde “ons vir jou, Suid-Afrika” nie. Ons kan om die feite wals, of ons kan erken dat dit die dawerende terughunkering na apartheid is—die verlange na ’n ondemokratiese SA waar die wit man heers met die wil en stempel van God, soos deur hulself uiteengesit. Dit verklaar ook die lojaliteit teenoor Israel (die wêreld se mees suksesvolle apartheidstaat), selfs terwyl Israel ’n volksmoord pleeg wat hulle, ironies genoeg, ontken.
Die KA’s en die PA’s staan weerskante van ’n groot kloof en skree in die ooptes na mekaar. Dis juis hier waar die kranse antwoord gee. Elke groep aan elke kant hoor net die boodskap in die eggo wat hy kies om uit die lawaai te hoor.
Dis hier waar ons definisies ons toetentaal in die steek laat. Nie die KA of die PA is ’n homogene groep nie. Daar is radikales en gematigdes aan alle kante. Ook kan mense wat liberaal is op sekere gebiede, as erg konserwatief op ander bestempel word. Byvoorbeeld: ’n liberaal wat erken dat apartheid ongelooflike skade aan swart mense se kanse op welvaart aangerig het, maar wat terselfdertyd konserwatief staan om te keer dat welvaart vandag herverdeel word. “Dit sal die mark in duie laat stort as ons vandag besluit dat eiendom niks meer beteken nie,” redeneer my denkbeeldige liberale karakter. Nie alle liberales is kommuniste nie. En nie alle liberales het swart vriende nie. Daarteenoor is daar talle KA’s met heelwat meer betekenisvolle kontak met swart mense op voetsoolvlak as sommige PA’s in tuis-ingerigte ivoortorings.
Daarom is dit nodig dat ons weer na ons definisies kyk en bepaal tot watter mate dit ons dien, en tot watter mate dit ons verdeel. En is die bediening die verdeling werd?
Ons verloor mekaar se medemenslikheid as ons eers ’n definisie is voordat ons mense is. Baie van hierdie definisies word so ferm en onwillig op mense afgedwing dat die definiëringsproses mense verder van mekaar vervreem as wat hulle werklik is.
Kyk byvoorbeeld hoe goed die anonimiteit van toevallige ontmoetings in die publiek werk. Hoe minder ons van ’n persoon se politieke identiteit weet, hoe groter is die kans op vriendelikheid. Ongeag die groot ideologiese kloof tussen mense, bly daar ’n kans vir medemenslikheid, en kan kontak selfs brue bou vir ’n avontuurlustige groep wat wil sien hoe die wêreld buite sy eie lager lyk.
Natuurlik sal daar mense wees wat standvastig aandring op die behoud van hul standpunt über alles. Jy gaan nooit almal kan oortuig om gemeenskaplike grond te betree nie, maar net so gaan jy min bereik as jy nie beleefd met mense buite jou bende kommunikeer nie.
Tans gaan die wêreld gebukkend onder swak leierskap. Goeie mense in Suid-Afrika sukkel onder die swak ANC-regering. Net so is daar goeie mense in Israel en Amerika wat, ondanks swak leierskap, steeds ’n bestaan moet voer en ’n lewe wil lei waarop hulle trots kan wees. Net so is daar ook mense binne die geledere van AfriForum en Solidariteit wat die goeie gemeenskapswerk en geleenthede waardeer, maar nie met die raspolitiek van Afrisol saamstem nie. Die huidige Afrisol-leierskap dwing egter mense om die raspil te sluk in ruil vir die ekonomiese en maatskaplike bemagtiging wat Afrisol bied.
Nie elke lid van AfriForum en Solidariteit is verantwoordelik vir hul organisasies se politieke standpunte nie—net soos nie alle Suid-Afrikaners met die regering saamstem nie, en net soos nie alle Springbokke noodwendig met alles saamstem wat Rassie doen nie. Daarom is dit nodig om te erken dat ’n term wat jou definieer, maar net ’n baadjie is wat jy kan aan- en uittrek. Die ware identiteit van wie ’n individu is, is veel meer as die klere wat hy of sy dra. As ons dit onthou, kan ons mekaar in die oë kyk, ongeag die verskillende baadjies wat ons dra.
My hoop vir SA is dat ons as land, ten spyte van ons verskille, almal vir dieselfde span sal skree—en ja, die afrigter, hetsy die ANC, Erasmus of wie ook al, met die nodige respek sal uittrap waar dit moet—maar nie die land sal verraai wanneer ons verskil nie, deur by die All Blacks of Amerika aan te sluit.Ons pad na ’n beter toekoms loop deur demokrasie. Ons moet, as land, die ANC uitstem, en dit is besig om te gebeur. Net so sou dit gesond wees as elke party en/of organisasie ontslae kan raak van leierskap wat nie die meerderheid van sy mense se waardes deel nie. Dit is moontlik om van swak leiers in elke gemeenskap ontslae te raak. Maar daarvoor is kommunikasie nodig—die soort kommunikasie wat nie die rug verstyf en die toks dieper trap om harder terug te druk nie, maar kommunikasie wat toorn verlaag en die hand uitreik.
Januarie 2026, Uncategorized
Die Nuus
In ’n verrassende wending het president Cyril Ramaphosa die vredeshand uitgereik na Donald Trump, president van die VSA. Dit nadat Trump gewys het dat hy nie meer speletjies speel nie. Hy het Venezuela met militêre presisie en dissipline binnegeval. Slegs 80 mense is verwoes, dood, of erger, agtergelaat om president Maduro na Amerika te ontvoer.
In ’n persverklaring, op wit papier, het Ramaphosa se kantoor erken dat hulle ’n internasionale insident wil vermy. Hulle het ook gesê dat dit onnodig is om die kleur van die papier te vermeld. “Not everything is about colour.” Ander partye het aangedring om te verskil.
Onbetroubare bronne vertel dat Ramaphosa die Maduro-ontvoering op TikTok regstreeks aanskou het en aan ’n meneer Niemand Inpartikulêr in ’n sagte dog sombere toon gesê het: “We’d better not p!ss this guy off any more than we have already done!”
Na bewering het Ramaphosa die hoof van die Suid-Afrikaanse vloot, vise-admiraal Monde Lobese, ontbied om uit te vind hoe beskikbaar daardie oorblywende boot van die Suid-Afrikaanse Vloot is om ’n “baie spesiale rusbank” aan president Trump te stuur. Die admiraal het dadelik ’n komitee in die lewe geroep om ’n komitee aan te stel om ondersoek in te stel na die seewaardigheid van die genoemde boot.
Toe Ramaphosa dit hoor, was hy dadelik op soek na sy iPad om te google of daar nie vinniger maniere is om ’n vredesrusbank na Amerika te stuur nie.
Ramaphosa het gesê hy sal selfs versoeke van Jaco Kleynhans, een of ander iets van Orania, aanhoor as dit Trump gelukkig genoeg sal maak om hom nie te wil ontvoer nie. Kleynhans het dadelik gevra vir die onafhanklikheid van Orania, waarop Ramaphosa geantwoord het dat hy dit sal oorweeg, solank hulle afstand doen van hul begeerte om Orania te herdoop na Afrisrael, in solidariteit met Israel. Ramaphosa het gesê dat dit net eenvoudig een stap te ver sal wees gemeet aan hoe Israel sy buurlande behandel.
Na bewering het Trump in sy stoel aan die slaap geraak nadat hy verneem het oor hoe min olie Suid-Afrika beskik.
Dae later, na die ondersoeke oor die ondersoeke afgehandel is, het Ramaphosa verneem dat dit dalk maande gaan neem om die vredesrusbank in Amerika af te lewer, gegewe dat ons oliereserwes ook tans redelik laag is. Ramaphosa het gesê dat hy in daai geval maar hoop dat hulle hom na ’n lekker deel van Amerika sal ontvoer en nie na ’n kultuurwoestyn soos Texas of Alabama nie.
Intussen het Ramaphosa sy iPad gekry en ’n vonkpos aan president Trump gestuur, wat deur Elon Musk onderskep en op X gepubliseer is:
Dear you highest excellency (and greatest) President Trump
This is me, your other black friend (and also president) Ramaphosa, president of South Africa, remember me? I hope I can call you my friend since Diddy, your only other black friend, is now in jail. (Okay, apart from Ye.) I am surprised that you have not yet pardoned Diddy yet. What’s up with that? Is it because he is black? I hope he survives jail seeing that Epstein, your best white friend, could not even manage that.
But let us not beat around the bushes; I want to be your friend and I think that you also want to be my friend because no one can call you racist if you have two black friends, can they?
I want to send you a present, but in order to do so, I ask if you can please send me some of Venezuela’s oil so that we can fuel our boat to deliver your present directly to Mar-a-Lago, if that is good for you. It would be good for us, since it is a lot closer to us than Washinton, DC.
Also if you send us enough oil we can send you more Afrikaners and this time we can bypass the Kenian passport stampers that we “accidentally” deported. I hope you are not still angry about that! Let bygones be gone by! That is what I say. What do you say?
Anyway, we have also renamed the Sun City golf course the Donald Djy Trump, of course, as a pre-emptive prize for your peace.
So help me God!
Amen
Yours fearfully
President (but not as “be best” as you, haha you see what I did there? Give my regards to Melania)
Cyril Ramaphosa.
Woordvoerders van beide Musk en Ramaphosa wou nie woorde voer om te ontken of die brief werklik die woorde van Ramaphosa is nie.
Op Fox News het Brian Killmedead stotterent gesê hy reken nie “Trump sal werklik vir Ramaphosa ontvoer nie, hy is darem maar net te swart … gesmeer … ek bedoel … hoeveel fentaniel kom werklik van Suid-Afrika by Amerika uit?”
’n Geheime agent, Justin Case van 45 Something Blvd, Denver, Colorado, het na bewering ongesiens, onverwags uitgeroep: “Mense dink nog die Maduro-ontvoering gaan oor drugs? Niks sal my meer verbaas nie! Ons gaan seker Groenland ook binneval en annekseer oor drugs!”
Niemand Inpartikulêr was teenwoordig om te ontken dat hy vingeraanhalings gebruik het.
Die internasionale gemeenskappe is bekommerd dat Trump se aksies die natuurlike wêreldorde kan omverwerp. Geheime antieke geskrifte is in skrywer Dennis de Bruyn se besit gevind wat beweer: “Wêreldorde is slegs moontlik mits die eenhorings nie Noag se ark verpas nie.” Wie weet of daardie voorspelling enigsins steek gehou het? Nietemin, wêreldorde ontwyk ons steeds.
Lande soos Meksiko het verlange uitgespreek na stabiele oorlogspresidente soos Bush en Bush, wat verkies het om oorlog te maak in die Ooste. Die verre, verre Ooste.
’n Vriend van ’n ou kennis van iemand wat president Claudia Sheinbaum, president van Meksiko, nie meer kan onthou nie, het gesê:
I really don’t like this latest trend that the USA is now referring to the “Western hemisphere”. This is really too close to home. It was better when they were talking about the States as “America” … It is like the guy in the corner of a Stephen King novel: You do not want the crazy guy next door to become aware of your existence!
So gepraat van die stil ou in die hoek van die kamer wat vir die eerste keer praat in die movie, wat nie eers sy oë wys onder sy stetson om advies te lewer nie. Sy kommentaar is:
This is the dumbest war America has ever started, and this just to win the Nobel Peace Prize. My advice is for everybody just to stay home, and keep low, America is blowing herself up. Just stay alive until it’s over. Keep yourself occupied with the gentle art of doing nothing.
Ironies genoeg is hy opgemerk toe hy hierdie wyse woorde kwytgeraak het en is deur ICE gedeporteer na Venezuela, wat voortaan sal bekend staan as “Ook-Amerika”.
Na nagte van angs waarin Ramaphosa nie na Amerika ontvoer is nie, het Cyril ’n vonkpos terug van Trump ontvang waarin hy sê:
Dear Cyril, given that the rand and all the Brics currencies have been rising constantly against the dollar, I was just dropping in to ask South Africa, and all the countries we are currently destabilizing, to help the US pay for that service, and to do so fast, because Mexico is very far behind in their wall payments. The matter is pressing! Thank you for your attention to this matter. You favourite President, Me.
Cyril het net laat weet die tjek is in die rusbank op die boot, Suid-Afrika wag net op die olie … Ons verwag dit gaan ’n lang, vreedsame oorlog wees vir Suid-Afrika.
Sun Tzu het blykbaar gesê: “The supreme art of war is to subdue the enemy without fighting.” Waarop Trump geantwoord het: “The supreme war of art is to subdue the fighting without an enemy.” Hy’s miskien nie verkeerd nie, maar die ANC het ’n komitee op die been gebring om te ondersoek wat dit beteken. Hulle sê hulle sal ná die volgende verkiesing heel moontlik nie na ons toe terugkom nie.
Niemand Inpartikulêr het gesê: “Jou goeie naam is iets wat jy verloor sodra jy dit gebruik.” Ondersoeke word ook geloods om uit te vind wat dít beteken.
Daarmee dan die nuus vir nou. Skakel in vir die nuus om agt.
Ek is Jan van der Volkswagen.
Tot iets anders gebeur, tot siens vir eers.

Recent Comments