Op Toer
Dag 5 (ek dink, oe ek raak so deurmekaar): Wasgoedlyn doen Janneman in die Diereryk
Natasha se huis. Ons staan laat op. Hoe anders, uitgeput van die vorige dae en nagte se doene en late. Saterdag. ‘n Dag af. Ons gaan rugby kyk en fokkol doen. O, wag so bietjie, nou onthou ek, iemand het ‘n belofte gemaak dat ons Janneman in die Diereryk vir ons vriende se kinders gaan opvoer. Sommer in Natasha se huis. Ai, wanne het wie gedink dis ‘n goeie idee? Daai iemand was seker weer ek. Ek herinner myself daaraan dat ek iewers die wyse raad gelees het wat sê moenie besluite maak wanneer jy kwaad is nie en moenie beloftes maak wanneer jy happy is nie. Nou onthou ek, dit was in ‘n kring buitekant die venue waar ons gespeel het, wat ek dink daar toe besluit is dat dit ‘n goeie idee sou wees om vir die kinders ‘n show te reël. Mmmh, advies se waarde word altyd eers waardeer wanneer jy dit nie gevat het nie.
Sjoe, ek’s lekker moeg wetie of ek kans sien vir hierdie spulletjie nie, maar gelukkig kon ek nie lank daaroor tob nie, want toe ek my voete vind is die tafel in die eetkamer uitgedra en die kussings op die vloer gegooi. Plek reggemaak vir klompie woelige kinders wat nou enige oomblik sou opdaag. Ai, ek slaan my oë op na Natasha se medisynekas. Waar sal my energie vandaan kom?
Hoedens en kleuvolle hemde word aangedra. Ons lyk soos ‘n sigeunersirkus toe Natasha met ons klaar is. Daar is iets omtrent ‘n kostuum of ‘n masker wat jou metamorfeer. Skielik is jy iemand anders en nie meer so tam en boring soos die persoon wat jy eens was nie.
Ek het hoeveel duisend vertonings al gelewer en ek kan met alle eerlikheid erken, ek raak nie meer bang of senuwee-agtig voor ‘n vertoning nie. Dis nou tot ek begin het met die kindershows. Ag jinne, kinne. Dis nou ‘n ander tipe druk daai. Die oë van die kleinspan wat jou stip aanstaar en sê: “wel hier is ek nou, entertain me.” Dis wanne mens begin twyfel en van voor af wonder: “is ek regtig goed genoeg?” Maar daai twyfel verdwyn so met die slaan van die eerste noot, want dan is daar nie meer tyd vir twyfel of weifel nie. Dan is daar net die oomblik self. En die oomblik verlang ‘n daad. En doen moet jy doen. Daar gat ons al weer. Voor al die gesiggies op die banke, op die kussings op die vloer en weggesteek buite val ons weg:
As jy deur die land wil ry
kom ons gaan nou na die stasie toe
en wanneer jy op die platform staan
langs die grootste trein wat ooit bestaan
klim op in sy lang vet lyf
jy kom ons gaan nou na die stasie toe
Ek is ‘n stoomtrein
‘n stoom-stoomtrein
met die rook wat bo verskyn
Ek’s ‘n baie ou masjien
‘n dekade of tien
het ek hier langs rondgery
Daar vertrek Janneman op sy reis deur die oerwoud en vat al wat kind is saam. Sjoe kindershows wil gedoen word. Dit bly die beste oefening vir ‘n middeljarige musikant. Natgesweet. Loit sit in op perkussie en Les gooi so paar lekker note op kitaar. Jackie M hou die kleinspan aan die gang. Kry hulle om te dans en te sing en op te spring en rond te hol. Sy’s superenergiek vir ‘n ouma. Maar dan is sy ‘n superjong ouma. Hoe gebeur sulke goed? Sal ons dit los vir ‘n dag wanneer ons nie besig is met ‘n kindervertoning nie?
Janneman se laaste note maak klaar en die trein vertrek en die kinders verdaag met die lokomotief. Miskien nou is daar ‘n ruskansie vir ‘n moeë musikant? Ja, die rugby gaan begin. Die tafel word ingedra. Die braai word aangesteek, die reën begin val. Omtrent alles in daardie volgorde. Nee wag, die rugby het na die reën eers begin. WP het gewen, bla bla bla, wie gee om as die Lions nie speel nie. Kerrie kap. Ek verkies biltong en braaivleis, so hou die kerrie. En die koppie. Ek val neer op die bank. Sien hoe hardloop die manne heen en weer. Sien hoe min gee ek om? Ek ontspan. Len braai vleis, Borrie pak tasse vir Swede. Loyd lê op die bank. Hy is ‘n Shark. Die ref is so onregverdig. Kyk hoe gee ek om. Hierdie is my omgeegesig.
Ek dink so bietjie in die agterkant van my kop aan Peter Pearlson se birthday partytjie vanaand by die zoo lake bowling club. Weet nie of ek die energie gaan hê om te gaan nie, maar ek wil graag my vriend Jim Neversink gaan groet. Hy is hier uit Denemarke vir ‘n paar dae. Ek sal moet ja. Maar gee my krag. Môre moet ons Mieliepop toe ry. Dis in Ermelo. Waar is Ermelo. Laat my dink aan Johannes Vogel wat altyd gesê het: “Die lekkerste ding van Ermelo is dat jy enige plek kan gaan vir vakansie, want dit sal beter wees as Ermelo.” Haha, hy’s funny, eks moeg. Ek gaan nou rus. Gesels later. Tarra for now.
(As jy nog nie Wasgoedlyn volume 1 se liekies in jou besit het nie, gaan kry dit hierso:
https://www.tunelink.co.za
en lees seblief die bygaande verwelkomings briefie)
Comments are closed






Recent Comments