
Bacchus Nel
“Eks ‘n donker man, onder die middernagmaan” uit die Bacchus Nel liedjie, Waar die dice val, is verseker ‘n raak beskrywing van hierdie enigmatiese digter, sanger en liedjieskrywer. Bacchus was nog altyd ‘n rebel… op skool, toe hy teen sy ouers se wense met die “verkeerde” maats uitgehang het… toe hy begin nadink en ongemaklike vrae begin vra het oor hoekom die wêreld draai soos hy draai. Toe hy begin besef het dat hy nie deur die lens van die mense om hom sien nie, en dat sy idees nie strook met die Calvinisties/Nationale indoktrinasie van die tyd nie. Daarom dat hy gesien was as ‘n rebel en ‘n droogmaker. Vandag is Bacchus Nel een van ons land se voorste liedjieskrywers. Sy kwaliteit staan uit. Hy sing nie net sommer ‘n liedjie nie…hy vertel kleurryke stories met meelewing, deernis, diepte en ‘n fyn humor en fantastiese musiek.
Bacchus het al 3 albums vrygestel: Die Arms van die nag, Tussen Junk en Jewelry en Twee ster Hotel. Daar is al genoeg nuwe liedjies vir ‘n vierde en vyfde album.
‘n Spesiale Bacchus Nel konsert gaan gehou word in Montagu waar die befaamde Jannie Hanepoot van Tonder van die Gereformeerde Blues Band en Jackie en Riku Lätti van Die Wasgoedlyn saam gaan wapper die aand. Kom luister na ongerepte ware wêreldklas talente almal saam in een konsert in een van Suid-Afrika se mooiste dorpe.