Op Toer
Dag 2 Deel 2: Die Wasgoedlyn se eerste optrede, JHB “the Room” 44 Stanley
Interessante toets het op ons gewag. Die feite is: Ons is ‘n versameling musikante, maar meer as dit, skeppende kunstenaars, wat nou saam op ‘n kleinerige verhogie vir die eerste keer ooit ‘n program gaan speel asof ons dit al jarre doen. Party van die musikante ontmoet mekaar vir die eerste keer daar minute voor die vertoning begin. Ek dink nie Rian Malan het ooit van Loit Sôls gehoor voor die Wasgoedlyn se Mieliepoptoer nie. Rian en Les het wel van mekaar geweet, want ek het baie van beide met die ander gepraat, maar vanaand is die eerste keer op aarde (let op geskiedskrywers) dat Rian Malan en Les Javan saam op ‘n verhoog sou verskyn.
Soundcheck sien ‘n chaotiese kombinasie verhoogskarrelendes wat vra: “waar’s die tuner? Watse mic is myne? Waar sit ek? Gaan jy op die kitaar speel? Vat jy die shakers? Wie op dromme? Waar is die fokken tuner? Wanne begin ons? Is julle reg, die mense kyk al na ons? Waarmee gaan ons soundcheck? Wat is die eerste song? Het iemand nog ‘n kitaarkabel? Hoekom werk my mic nie?” Al hierdie dinge gebeur terwyl Lochner rustig sy koffie teug en ‘n sigaretjie rook en Les J op sy eie in die Spar rondmission vir airtime (vir Melissa smsies) en iets by die Tops. Min gepla. Maar soos ek sê, eks op my eie min gepla oor Les, want soos ek voorheen gesê het, as Les opdaag, gaan mooi gebeur. Bacchus Nel daag op met sy hele band. Hoe de fok gaan almal op die verhoog pas….
Dan raak alles stil en almal sit en ons asem in en uit en wag vir die eerste noot. Ek is op die klavier val weg met Hoofstroom in D. D is ‘n goeie sleutel. Les het ‘n mondfluitjie in D. Dit klink mooi en skraal in die dikste musiekstrome sny dit van agter in die kamer reg deur tot voor in die gevoel. Daai triestige klankie wat mense hartseer en bly op dieselfde oomblik maak. Ek is in die ritme, ek hoor Les van anderkant die verhoog inval, dan is Pete by met ballas en Rian op ruggraatkitaar en die perkussie met Ruben en Loit begin inskop en die Wasgoedlyn is in die aanloopbaan na al die reise en regmaak soos ‘n groot Boeing met enjins wat opwarm, wegtrek en as die koor kom, opstyg: “Hoofstroom, verbode rivier, word meer as ‘n mens, ‘n heilige dier.”
Ons het vertrek. Ons is hier. Ons speel musiek. Ons verdwaal in toonlere en ritmes. Ek sien uit die hoek van my ook Grieta begin glimlag. Soos Rian sing: “Die glase klink, die dansers draai, hy hou jou vas, probeer koning kraai.” Oe die gotskap gevoel as jy met ‘n groot orkes ‘n lekker liedjie speel en almal gooi ‘n stem in die potjie. Die geheel is groter as die somtotaal van almal se bydraes. Dis waar die magic lê. Fok Mnet. Ek hoef nooit weer TV te kyk as hierdie lewensaar my siel so voed nie. Ek is verslaaf aan klanke maak. Die regte klanke met die regte mense op die regte manier. Ek sal help span aan hierdie ding; die Wasgoedlyn, laat ons sien hoe ver sy gaan. Maar om oor musiek te praat is om seks met behulp van masturbasie te probeer beskryf. Ek los dit liewer daar waar dit hoort. Mens u moet liewerste self kom luister. Die Wasgoedlyn kom. Kom pluk sy vrugte daar is baie om te geniet.
(As jy nog nie ten minste Wasgoedlyn Vol 1 se liedjies het nie, los ‘n boodskap met e-pos adres, of gaan na http://tunelink.co.za, en ons stuur so gou soos nou die liedjies direk na u toe, waar dit hoort te wees.)
Comments are closed






Recent Comments